Kom ons begin ‘n beweging

Die kunste is soms geneig om só te fokus op die individuele ervaring van kunstenaars, gehore, kykers en lesers, dat die waarde van gesamentlike ervaring geringgeskat en afgemaak word.

Te midde van alles wat in 2019 sleg en swaar was in Suid-Afrika, is daar twee gebeurtenisse wat uitstaan en herbevestig dat die hoop nooit beskaam nie. ’n Optimistiese eiendomsagent, Jarette Petzer, begin in September die sosialemedia-veldtog #I’mStaying en dié beweging is goed op pad na ’n miljoen volgelinge. Die groep is ’n bymekaarkomplek vir positiewe Suid-Afrikaners wat onbeskaamd hul verbintenis om in Suid-Afrika te bly en ’n verskil te maak, bevestig. Deelnemers deel eie en ander se aangrypende en gewone stories, en so ontstaan interessante gesprekke tussen landsburgers wat andersins nooit met mekaar sou praat nie.

Die Springbokke se verowering van die Rugbywêreldbeker was vir baie Suid-Afrikaners ’n skaars ervaring van ongelouterde vreugde. Die beker bo ’n seevierende Siya Kolisi se kop het die hele land se psige goed gedoen. Almal was bly, dalk die gelukkigste wat Suid- Afrika as kollektief al ooit was. Soos met #I’mStaying, is die ekstase van Wêreldbeker-glorie, selfs groter as die gebeurtenis self, omdat dit ’n gedeelde ervaring is.

Een van die grootste uitdagings in die samestelling van ’n kunstefeesprogram is juis die insluiting van items wat gerig is op demografies diverse gehore. Die Woordfees bly daartoe verbind om aan feesgangers ervarings te bied wat buite tradisionele en bekende leefwêrelde lê. Dit kan net gedoen word met die ondersteuning van borge. Ons is daarom verheug om Toyota as mede-naamborg te verwelkom.

Ons tema, “Aanhou beweeg en geraas maak”, geneem uit Jan Rabie se kortverhaalbundel 21 en allerweë beskou as die begin van die Sestiger literêre beweging, is ’n herbevestiging aan ons verbintenis aan die woord. Die Sestigers het die establishment van die dag tot in hul fondamente geskud. ’n Kunstefees behoort dit ook te doen; maar ook meer as dit – ’n fees moet motiveer, koester en troos, verwoord, vermaak en vernuwe. Slegs as die fees al hierdie funksies vervul, sal dit werklik impak hê.

Sorg dus dat jy saam kom geraas maak op Stellenbosch van 6-15 Maart. Dis dalk net die begin van ’n nuwe beweging!

Saartjie Botha: Direkteur: Toyota US Woordfees en WOW

Facebook
Twitter
LinkedIn
Lees ander berigte
Woordfees 2022
Woordfees

Woordfeesdatums vir 2022 bekend

Die Toyota US Woordfees kon op Maandagaand 14 Maart die eerste keer sedert Maart 2020 weer die gesellige Langtafel aanbied. Dié geliefde tradisie is tradisioneel

Lees meer »
Langtafel
Woordfees

Die Woordfees Langtafel

Die Langtafel is vir baie Woordfeesentoesiaste ’n jaarlikse hoogtepunt en geliefde tradisie. Dit is aan hierdie Langtafel, onder die bome in Ryneveldstraat, waar die Toyota

Lees meer »