fbpx

Oor sowat ‘n maand begin die Toyota US Woordfees in Stellenbosch en die kaartjieverkope is om die 12% hoër as in dieselfde stadium verlede jaar. Verskeie aanbiedings is reeds uitverkoop. Hier is ’n paar van die topverkopers in verskillende genres. 

Topvyf: Toneel

Kamphoer – Die Verhaal Van Susan Nell is gegrond op die ware verhaal van Susan Nell, wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in ’n konsentrasiekamp verkrag en vir dood agtergelaat is, maar wie se paaie later weer met dié van haar verkragter kruis.

Sandra Prinsloo speel die uitdagende rol van Nell in hierdie eenvroudrama gegrond op Francois Smith se topverkoperroman. Die veelbekroonde Lara Foot voer regie.

Van die agt geskeduleerde vertonings is reeds meer as 50% uitverkoop.
Valsrivier – ’n verwerking van Dominique Botha se bekroonde roman deur Saartjie Botha met Janice Honeyman as regisseur en Anna-Mart van der Merwe en Tinarie van Wyk Loots in die rolverdeling.

Die sonkamer, met Antoinette Kellermann en Lida Botha, gee ’n intieme blik op die bejaardes in ’n aftree-oord, gegrond op opnames van onderhoude met mense in hul 80’s deur die skrywer-regisseur van dié stuk, André Gerber.

Die vermoeienis van vlerke – ’n Afrikaanse vertaling van Lara Foot se internasionaal bekroonde The Inconvenience of Wings, ’n boeiende blik op die impak van gemoedsteurnisse op ’n gesin. 
Die intermissie – sketskomedie met Beer Adriaanse, Schalk Bezuidenhout, Barbara Brasington, Bennie Fourie en Mila Guy.

Op die Kinderfeesprogram is Huppelkind tans die topverkoper: Poppe en topstemme (Joanie Combrink, Stian Bam e.a.) gee nuwe lewe aan W.O. Kühne se klassieke verhale onder regie van Marthinus Basson.

Topvyf: Kontemporêre musiek

Karen Zoid 20 jaar pops: Karen vier haar 20ste jaar in die bedryf met die Kaapse Filharmoniese Orkes. Die Golden Circle-kaartjies is reeds uitverkoop, maar daar is nog baie plek in die General Access-area. Jy kan lekker vroeg kom en piekniek hou. ’n Spesiale gin-kroeg sal beskikbaar wees.

Nataniel: Hoekom hulle swing – Nataniël vertel stories uit die buurt en sing musiek uit die buik van soul, blues en jazz onder begeleiding van die gewilde Charl du Plessis Trio.  

’n Lieflike lawaai – ’n verskeidenheidskonsert onder regie van Janine Neethling met Amanda Strydom, Vusi Mahlasela, Joshua Na Die Reën, Stephanie Baartman en ’n top-orkes.

Karoo Suite 2: Karoonagte is Deon Meyer en Coenie de Villiers se opvolgproduksie van hul gewilde Karoo Suite.

Eet Kreef! Laudo Liebenberg (aKING) en ’n vuurwarm band vier dié ikoniese album deur Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band.

Topvyf: Klassieke musiek

Universiteitskoor Stellenbosch: Etensuurkonserte. Die Stellenbosch Universiteitskoor beklee die sesde agtereenvolgende jaar die eerste plek op die Interkultur Ranglys van 1 000 internasionale kore. Dié kaartjies is gewoonlik lank voor die fees uitverkoop.

Brahms Requiem. Johannes Brahms se belangrikste geestelike werk vir koor, orkes en soliste, Ein deutsches Requiem, word uitgevoer deur die Libertas-koor en -orkes.

Die Forelle: Kwintette vir klavier en strykers. Die sukses van Schubert se lied “Die Forelle” het gelei tot ’n ikoniese kamermusiekwerk. Dié konsert sluit werk van Schubert se tydgenoot Johann Hummel in.

Universiteit Stellenbosch SimfonieorkesUSO, o.l.v. Bernhard Gueller, voer Beethoven se Vioolkonsert met die violis Alissa Margulis uit ter viering van sy 250ste verjaardag.

Mariam Batsashvili uit Georgië is die eerste vroulike pianis wat die eerste prys in die Internasionale Franz Liszt-klavierkompetisie verower het. Sy speel werke van Bach, Mozart, Liszt en Ravel.

Topvyf: Skrywersfees

Skrywers-langtafel – Twaalf skrywers sit saam met gaste by ’n langtafel aan. Met o.a. China Mouton, die New Yorker Suketu Mehta, die Skots Damian Barr, Fatima Dike, Fred Khumalo, Jolyn Phillips en Marita van der Vyver. 

Hof toe! Is ons howe die nuwe politieke slagveld? Johann Kriegler, Thuli Madonsela en Dennis Davis bespreek dié vraag met Andreas van Wyk na aanleiding van Davis en Michelle le Roux se boek Lawfare – Judging Politics in South Africa.

Adriaan & Agrizzi: “Geseën” deur Bosasa. Adriaan Basson en Bosasa se eertydse bedryfshoof Angelo Agrizzi deel  die verhoog in ’n uitpraatsessie met  Jacques Pauw.

Dana Snyman: Soekmekaar. Dana praat met Johannes de Villiers oor hoe mense na mekaar probeer uitreik in ons land; hoe ons mekaar soek en nie altyd vind nie. 

Chinees In Afrikaans: Daan se “Dao”. Andries Buys gesels met Frederik de Jager oor China en sy veelbekroonde debuutroman, Die dao van Daan van der Walt.

Filmfees:

Poppie Nongena. Christiaan Olwagen se verfilming van Elsa Joubert se klassieke roman het 12 toekennings by die 2019 kykNET Silwerskermfees gewen. 

Die verhaal van Racheltjie de Beer. ’n Herverbeelding van dié geliefde legende gegrond op die roman van Brett Michael Innes met Stian Bam, Sandra Prinsloo en Marius Weyers.  

Diskoers:

Die Filosofiekafee is al ’n feesinstelling. Stan du Plessis is die seremoniemeester en Louise du Toit, Vasti Roodt, Hannes Smit en Anton van Niekerk is die filosowe wat mekaar en die gehoor met tong-in-die-kies argumente en spitsvondighede om die bos lei.

Die Burger-gespreksreeks onder gespreksleiding van Tim du Plessis en Christi van der Westhuizen takel aktuele sake saam met verskeie kenners. Toegang is slegs R40 en anders as in die verlede word dié reeks nie weer in die ope lug aangebied nie, maar in Die Kruiskerk. Die gehoor is dus beskerm teen wind en weer.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on google
Google+
Lees ander berigte
Nuus
Woordfees

Woordtrofees-wenners 2020

Die wenners van die 2020 Toyota US Woordfees Woordtrofees-toekennings is op 7 April regstreeks aanlyn via Facebook live stream bekend gemaak. Die wenners ontvang elkeen

Lees meer »