fbpx

Deniel en Frazer Barry se topvyf

Die egpaar Deniel en Frazer Barry is bekend as lede van die groep Tribal Echo. Frazer is die musikale regisseur van twee kykNET Fiësta-benoemde produksies wat vanjaar by die Toyota US Woordfees aangebied word: Woorde op akkoorde en Jakkals & Wolf Onbeperk.

Deniel en Frazer Barry sien uit na:

Wat is ’n taal sonder sy klank? Hoe beïnvloed ons ervaring van klank ons natuurlike omgewing en ons uitkyk op die lewe? Ses bekroonde woordkunstenaars (Diana Ferrus, Frazer & Deniel Barry, Churchil Naudé, Jolyn Phillips en Hermien de Vos) speur hierdie vrae na en betower jou met woordkuns, sang, digkuns, dramatiese storievertelling, dreunsang en rymklets. Die produksie is ’n viering van ons geskiedenis, die natuur en die ontwikkeling van klanke om sin te maak. Dié produksie is by die KKNK 2019 vir drie Kanna-toekennings benoem en het die gehoor by Tuin van Digters gaande gehad.

Dié produksie is uitstekende gesinsvermaak. Dit bied ’n humoristiese en kontemporêre blik op die bekende dierestories wat al vir langer as ’n honderd jaar deel van ons inheemse storieskatkis is. Hierdie geliefde stories kry nuwe lewe wanneer Jakkals, Wolf en ’n paar ander diere ’n TV-span vra om ’n werklikheidsreeks oor hulle te maak. Hulle is egter gou ontevrede wanneer Koning Leeu die kalklig probeer steel. 

Adam Small se taal het ’n atmosfeer, ’n merkwaardige teenwoordigheid, ’n presence geskep. Dit dra die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat. Wie’s dié poet, wat ons steeds help om ons herkoms te erken, ons in mekaar te herken en ons toekoms saam te verken?

Hierdie is ’n reis deur die geskiedenis en kultuur van drie verhoogkunstenaars wat in die Kaap grootgeword het. In ’n mengsel van verskeidenheidskonsert en teater vertel Jerome Rex (rymkletser), Nadine Matthews (jazz-sangeres) en Ivan Willis (DJ IV Beats) hul stories van lewe op die Kaapse Vlakte. Jerome en Nadine sing bekende liedjies asook hul eie oorspronklike musiek, met die ondersteuning van ’n vyfstuk-orkes en die bekroonde flamenco-danser Demi Johnson.

Hierdie veeltalige poësieproduksie ondersoek ons verhouding met water in die Moederstad vanuit uiteenlopende perspektiewe in Afrikaans, Engels, Xhosa en Somali. Die onlangse droogte in die Wes-Kaap is ’n voorspel tot verdere wateronsekerheid in die konteks van klimaatsverandering. Hierom sing, fluister en betreur vier digters (Pieter Odendaal, Toni Stuart, Lwanda Sindaphi en Afeefa Omar) die onsigbaarheid van water in ons daaglikse lewens en veg hulle verse vir die erkenning van hierdie noodsaaklike lewensbron. Ook die geskiedenis van water in Kaapstad, die huidige ongelyke toegang tot water, die traumas wat die water dra en die moontlikheid van genesing kom in dié stroom van woorde byeen.

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on google
Google+
Lees ander berigte
Nuus
Woordfees

Woordtrofees-wenners 2020

Die wenners van die 2020 Toyota US Woordfees Woordtrofees-toekennings is op 7 April regstreeks aanlyn via Facebook live stream bekend gemaak. Die wenners ontvang elkeen

Lees meer »