Hierdie skrywers word in US Woordfees Kortverhaalbundel 2020 opgeneem

Saartjie Botha, Toyota US Woordfeesdirekteur, is opgewonde oor die hoeveelheid nuwe stemme in die 2020-bundel: “Dis verblydend dat twaalf van die 26 skrywers wat opgeneem word, nuwe stemme is. Saam met nuwe skrywers kom nuwe stories en vars invalshoeke. Die Woordfees wil ’n platform vir sowel gevestigde as ontluikende kunstenaars wees.”

Die skrywers van die verhale wat in die US Woordfees Kortverhaalbundel vir 2020 opgeneem gaan word, is Maandagaand 18 November tydens die fees se programbekendstelling op die Rust en Vrede Landgoed bekend gemaak.

Ses-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die nuwe bundel getiteld Aanhou beweeg en geraas maak, wat by die Toyota US Woordfees van 6-15 Maart 2020 te koop sal wees. Die kortverhaalbundel se titel is dieselfde as die feestema. Die bekende reël “aanhou beweeg en geraas maak” kom uit Jan Rabie se kortverhaal “Ek het jou gemaak” in sy grensverskuiwende bundel 21, wat in 1957 gepubliseer is. Die 2020-feestema is daarmee ’n indirekte verwysing na die 21ste verjaardag van die fees volgende jaar en ook ’n herbevestiging van die Woordfees se sentrale verbintenis tot die letterkunde.

Elke skywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang R5 000. Die wenner, wat gedurende die Toyota US Woordfees 2020 aangekondig word, wen R30 000 geborg deur Du Toitskloof Wyne. ’n Verdere groot prys is te danke aan kykNET, wat een van die verhale in ’n kortfilm sal omskep vir die kykNET Silwerskermfees 2020.

“Ons het vanjaar 266 inskrywings ontvang wat weer oor ’n wye verskeidenheid temas handel. Getrou aan die tydsgees het die een tema wat groot uitgestaan het, te doen met die Enough is Enough-beweging – ’n opstaan teen die mishandeling van vroue en ook ’n afrekening daarmee,” sê Suzette Kotzé-Myburgh, die sameroeper van die beoordelaarspaneel. “Soos altyd was dit vir die keurders ’n groot verrassing om die verhale te lees én ’n behoorlike uitdaging om die wenners te kies. Baie geluk aan almal wat die bundel gehaal het, en aan die res wil ons sê: Moenie moed verloor nie, probeer volgende jaar weer!”

Die ander twee beoordelaars saam met Kotzé-Myburgh was Madri Victor en Valda Jansen, aan wie die grootste toekenning ter ondersteuning van skeppende skrywers in die land pas toegeken is – die gesogte Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs ter waarde van R430 000 vir volgende jaar. 

Ed Beukes, woordvoerder van Du Toitskloof Wyne, deel Botha se entoesiasme: “Ons is vreeslik opgewonde om te hoor wie se verhale opgeneem is in die bundel – veral die nuwe skrywers wie vir die eerste keer waag met hul skrywe. Die geleentheid om deel te wees van al die nuwe stories elke jaar is soos sonsopkoms met dagbreek, dit raak nooit oud nie en bly opwindend.”

Die lys van skrywers wat in die 2020 US Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:

  • Ben Abbott
  • Nellie Alberts
  • Christine Barkhuizen-Le Roux
  • Jeanetta Basson
  • Emma Bekker
  • Anri Botha
  • Frederick J. Botha
  • Johan de Nysschen
  • Elmarie Dercksen
  • Erla-Mari Diedericks
  • Nelia Engelbrecht
  • Jaco Fouché
  • Hendie Grobbelaar
  • Henning Janse van Vuuren
  • Emile Joubert
  • Isabel Martinson
  • Michèle Meyer
  • Naomi Meyer
  • Cliffordene Norton
  • Adriaan Steyn Hendricks
  • Gerda Taljaard
  • Marie Toerien
  • Santie van der Merwe
  • Adelle van Wyk
  • Madeleen Welman
  • Jelleke Wierenga

Vir verdere inligting of om ’n onderhoud te reël, kontak vir Danie Marais by die Toyota US Woordfees-kantoor by 083 325 3433 of danie_marais@sun.ac.za. Die US Woordfees word van 6-15 Maart 2020 in Stellenbosch aangebied. Die feesprogram is aanlyn as PDF beskikbaar by: www.woordfees.co.za 

Facebook
Twitter
LinkedIn