ESSAY

Kerkorrel se musiek deur die oë van ’n jong mens

Janneke van Zyl
Eet Kreef
Foto’s: Nardus Engelbrecht

Ek ontdek Johannes Kerkorrel en die Voëlvrybeweging die eerste keer op 23. Natuurlik ken ek “Hillbrow” en “Halala Afrika”, maar die ware Kerkorrel, die een met die donker rock- en rebelse lirieke, verskyn in 2022 eers op my speellys. 

Ek wens ek kon sê ek ek het die Gereformeerde Blues Band ontdek in my soeke na ’n liberale gemeenskap met politieke motiverings. Of dat ek deel is van ’n jeugbeweging wat beswaar maak teen die historiese onregte, een waarvan Kerkorrel se rockmusiek die rugraat vorm. Maar ongelukkig is ek nie so oulik as ek graag wil wees nie: Ek maak die heel eerste keer kennis met die musiek deur ’n kortfilmprojek as deel van my studie.

Vir die projek doen ek navorsing oor Ralph Rabie. Ek is nuuskierig oor die man agter die musiek, agter die seer en agter die einde. In my kop is daar ’n groot alternatiewe Afrikaanse kreatiewe community. My verwysingsraamwerk is die Ink-redaksie: mense wat lief is vir die taal en kultuur, maar terselfdertyd die krake sien én dit kritiseer. Dalk verromantiseer ek dit effens en dink álle Afrikaners het meer van ‘n oop kop. 

In ‘n klasgesprek besef ek dit is ‘n voorreg om só ‘n idee van ons taal en kultuur te hê. Daar is nog te veel Afrikaners wat fucked up idees het oor rolle, verhoudinge, ras, seksualiteit en geloof. Ons praat oor die feit dat baie mense net die “liberale” gesprekke vermy wanneer hulle huis toe gaan, want dit help nie om te probeer praat nie.

As deel van my navorsing kyk ek die fliek Johnny is nie dood nie. Ek was vasgenael. Die film is beeldskoon en eksentriek. Dit vang iets vas van die jeug van daardie tyd. In ’n mate verromantisseer dit ook die moeilike tyd en vryheidstryd, maar ’n mens sien die werklikheid van wonde wat nooit genees nie. Iewers moet ons almal grootword. 

As ons eerlik is, het min eintlik verander ná apartheid. Die naam en wette is verwyder, maar wit mense het mure gebou, selfs dié wat die Voëlvrybeweging gevolg en verkondig het. 

Wat sê dit van ons Afrikanerkultuur, van die feit dat ons so in gemak leef en ons blind hou vir al die moeiliker dinge? Dalk lewer die fliek ook kommentaar op die jeug van daardie tyd – het hulle regtig omgegee oor die groter issues of was hulle eintlik maar net daar vir die partytjie?

Nou speel ek Eet Kreef! album op Spotify. Ek luister doelbewus na elke woord, elke tromslag en elke noot op die klavier. Ek voel die woede, vrees en geweld, maar ook die hoop. Dit is 33 jaar later, maar die musiek is steeds relevant en ons het dit nou net soveel nodig soos toe. 

Ná nog ’n week saam met die Ink-span word ek verfris deur komplekse gesprekke. Ek lag uit my maag vir grappies wat net snaaks is in Afrikaans en besef hoe wonderlik die taal en die mense is. 

Ja, dit is waar, nie alle Afrikaners is oopkop nie, maar ons is ook nie almal fucked up nie. En as jy op soek is na goeie Afrikaners, kom vind hulle op die Ink-span, een keer ’n jaar saam by die Stellenbosse Woordfees. 

Facebook
Twitter
LinkedIn