SKRYF NOU IN

US Woordfees

KORTVERHAAL-
KOMPETISIE 2022

Ondersteun deur

Toyota US Woordfees 2021

 Beste skrywer

Dit is tyd vir die sewende US Woordfeeskortverhaalbundel. Die eerste vyf bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang. Hierdie kortverhaalbundels sal in die komende jare dien as ’n dokument van die tydsgees waarin veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulself tans bevind.

Du Toitskloof Wyne, ’n gewaardeerde Woordfeesvennoot, borg weer in 2022 die prysgeld van R30 000 wat aan die skrywer van die wenverhaal toegeken word. Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 ontvang. Du Toitskloof maak ook ’n bydrae tot hierdie prysgeld en borg die bekendstellingsgeleentheid van die kortverhaalbundel, wat by die 2022 Toyota US Woordfees aangebied sal word. 

Skrywers wie se verhale vir die bundel gekies word, sal in November vanjaar in die media bekend gemaak word. Die wenverhaal sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, by die Toyota US Woordfees 2022, aangekondig word. 

Kompetisiereëls en riglyne vir inskrywings: 

Slegs Afrikaanse kortverhale sal aanvaar word. 

Die kompetisie is oop vir alle skrywers. Werknemers en familielede van Du Toitskloof Wyne en/of die Toyota US Woordfees word nie toegelaat om deel te neem nie.

Slegs een inskrywing word per skrywer aanvaar. Die verhaal moet ’n minimum van 1 500 woorde lank wees, met 3 000 as die maksimum woordtelling.

Verhale moet nuutgeskryf wees en nie voorheen op enige platform gepubliseer wees nie.

Kopiereg van die verhale berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die Toyota US Woordfees. Indien verhale wat in die bundel verskyn later ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan die Toyota US Woordfees sowel as volledige erkenning met publikasie. 

Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer se naam en kontakbesonderhede moet op die aanlyn inskrywingsvorm ingevul word, maar NIE by die verhaal ingesluit word nie. Slegs die titel moet duidelik sigbaar boaan die verhaal verskyn, ten einde anonieme keuring te verseker. 

Verhale moet in MS Word-formaat aangebied word en elke bladsy moet genommer wees. Gebruik SLEGS die titel van die verhaal as titel van die dokument (file name). Let wel: Geen PDF’s sal aanvaar word nie. 

Indien daar enige blatante verwysing na die skrywer in die verhaal gemaak word waaruit beoordelaars sy/haar identiteit kan aflei, sal die verhaal summier gediskwalifiseer word.

Verhale sal geredigeer word voor publikasie, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.

Hoewel die bundel die feestema as titel sal hê, hoef skrywers dit nie as tema vir die verhaal te gebruik nie. Die tema van die verhaal word geheel en al aan die skrywer oorgelaat. 

Daar sal ongeveer 25 verhale vir die bundel gekies word. 

Du Toitskloof Wyne, ’n gewaardeerde Woordfeesvennoot, borg weer in 2022 die prysgeld van R30 000 wat aan die skrywer van die wenverhaal toegeken word. Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 ontvang.

Inskrywings wat later as 17:00 op 30 September 2021 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie. Inskrywings sal met ontvangs erken word.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is om 17:00 op 30 September 2021.

Navrae kan per e-pos aan woordfeesbemarking@sun.ac.za gerig word. Slegs skriftelike navrae sal beantwoord word.

Ons is opgewonde oor hierdie projek en wag gretig om jou inskrywing te ontvang.

Skryf hier in