US Woordfeeskortverhaalbundel

Die US Woordfeeskortverhaalbundel
het ’n literêre instelling geword

Die eerste US Woordfeeskortverhaalbundel, Bly, het in 2016 verskyn. Sedertdien het vier ander soortgelyke bundels die lig gesien. Ál ses bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang.

Die ervare uitgewersredakteur Suzette-Kotzé Myburgh was vanaf die eerste US Woordfeeskortverhaalbundel die sameroeper van die keurpaneel. Sy verduidelik as volg wat hierdie projek uniek en besonders in die landskap van die Afrikaanse letterkunde maak:

“Die US Woordfeeskortverhaalbundel is uniek in die opsig dat nuwe skrywers en gevestigde skrywers op gelyke voet meeding – omdat die keuring volkome anoniem geskied, is die speelveld werklik gelyk vir alle deelnemers. Trouens, sedert die instelling van die hoofprys van R30 000 was nog elkeen van die vier wenners ’n debutant. Daarby kry al die ander skrywers wat die bundel haal ’n vergoeding van R5 000, wat besonder ruim is in vergelyking met soortgelyke versamelbundels. 

“Aan die begin van hierdie projek was die feesdirekteur Saartjie Botha se visie om met elke bundel ’n oes kortverhale te versamel wat sal dien as ’n soort literêre jaarboek wat iets van die spesifieke tydsgees weerspieël. En dit het ons as samestellers nog telkens gevind – dat daar te midde van ’n bonte versameling temas ’n kerntema uitstaan wat verskillende skrywers as hul onderwerp gekies het sonder dat daar enige voorskrifte oor ’n tema was. As sulks vorm die Woordfeeskortverhaalbundel inderdaad ’n waardevolle tydsdokument, op die beste moontlike manier: deur die kreatiewe insigte van skrywers wat deur hulle stories ons gedeelde werklikheid verbeeld.”

Dié projek lê direkteur van die Toyota US Woordfees, Saartjie Botha, na aan die hart: “Die Woordfees het ontstaan as ’n literêre fees en die woord en skrywers is steeds die hart van ons program. Die bundel is ’n uitbreiding daarvan en ook ’n poging om die buitestander dophouer en aantekenaar – soos skrywers dikwels is – in ons jaar- en feesprogram blootstelling te gee. 

“Ons is trots op die ryk oes van stemme en stories wat hierdie projek reeds opgelewer het, en sien reikhalsend uit na nuwe verhale.”

Vind uit watter skrywers die 2023 US Woordfeeskortverhaalbundel gehaal het.

Borrel - Kortverhaalbundel 2023

Die 2023 Woordfeeskortverhaalbundel is by die Somerset Mall-tak se Exclusive Books in Somerset-Wes teen R300 te koop. Die bundel kan na ‘n ander Exclusive Books-tak gestuur word. Kontak Exclusive Books Somerset-Wes by 021 851 0248 om so ‘n reëling te tref.

2022-wenner: Lynthia Julius

Die wenverhaal van die 2022-bundel was: "Plat lê soos 'n Minora blade"

2021-wenner: Coen Basson

Die wenverhaal van die 2021-bundel was: "Eenzaamheid"

2020-wenner: Marie Toerien

Die wenverhaal van die 2020-bundel was: "Bitter Daisies"

2019-wenner: Hendie Grobbelaar

Enrique Grobbelaar se kortverhaal “Binnelandse Sake” is met finansiële ondersteuning van kykNET tot ’n kortfilm verwerk wat by die 2019 kykNET Silwerskermfees vertoon is.

2018-wenner: Clari Niemand

Haar wenkortverhaal, “Non(Kompos)Mentis”, is ook met finansiële ondersteuning van kykNET tot ’n kortfilm verwerk wat by die 2018 kykNET Silwerskermfees vertoon is.

2017-wenner: Michèle Meyer

Haar wenkortverhaal, “Langsaan”, is ook met finansiële ondersteuning van kykNET tot ’n kortfilm verwerk wat by die 2017 kykNET Silwerskermfees vertoon is.

Geen algehele wenner is in 2016 aangewys nie.

Die hoofprys is eers in 2017 ingestel nadat Du Toitskloof Wyne begin het om die prysgeld te borg.


Ondersteun deur:

Waar kry ek my Woordfeeskortverhaalbundel?

 Indien jy die bundel wil bestel, stuur ’n e-pos na woordfeesbemarking@sun.ac.za. Bundels vir die jare 2017 tot 2020 is ook nog in voorraad.

Pryse:
2022: R350
2021: R300
2020: R150
2019: R100
2018: R50
2017: R50
2016: R50

R500 vir ‘n pakket van ses bundels: 2021, 2020 & 2019 + 2018/2017/2016

Algemene vrae

Die bundel word elke jaar in ’n beperkte oplaag uitgegee wat aanvanklik slegs by die Toyota US Woordfees te koop was. Die 2022-bundel, asook alle oorblywende eksemplare van die vorige ses Woordfeeskortverhaalbundels is by die Woordfeeskantoor beskikbaar om te koop.

Plaas ‘n bestelling by woordfeesbemarking@sun.ac.za

Die 2023-kortverhaalbundel sal by Woordfees 2023 bekend gestel word en die 2023-wenner sal ook by hierdie geleentheid aangekondig word.

Elke skrywer kry een gratis outeurseksemplaar by die bundelbekendstelling. Skrywer wat nie dié geleentheid kan bywoon nie, sal hul boeke per koerier ontvang. Die koerierkoste is vir die betrokke skrywer se eie rekening.

Hou die media en die Woordfees se digitale platforms dop vir aankondigings in dié verband. Jy kan hier op die Woordfeesnuusbrief inteken om op hoogte van die jongste feesnuus te bly.

US Woordfeeskortverhaal-bundelkompetisie – reëls en riglyne vir inskrywings

Slegs Afrikaanse kortverhale sal vir dié bundel oorweeg word.

Die kompetisie is oop vir alle skrywers. Werknemers en familielede van Du Toitskloof Wyne en/of die Toyota US Woordfees word nie toegelaat om deel te neem nie.

Slegs een inskrywing van 1 500 tot 3 000 woorde word per skrywer aanvaar.

Verhale moet nuutgeskryf wees en nie voorheen op enige platform gepubliseer wees nie.

Kopiereg van die verhale berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die Toyota US Woordfees. Indien verhale wat in die bundel verskyn later ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan die Toyota US Woordfees sowel as volledige erkenning met publikasie.

Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer se naam en kontakbesonderhede moet op die aanlyn inskrywingsvorm ingevul word, maar NIE by die verhaal ingesluit word nie. Slegs die titel moet duidelik sigbaar boaan die verhaal verskyn, ten einde anonieme keuring te verseker.

Verhale moet in MS Word-formaat aangebied word en elke bladsy moet genommer wees. Gebruik SLEGS die titel van die verhaal as titel van die dokument (file name). Let wel: Geen PDF’s sal aanvaar word nie.
Indien daar enige blatante verwysing na die skrywer in die verhaal gemaak word waaruit beoordelaars sy/haar identiteit kan aflei, sal die verhaal summier gediskwalifiseer word.

Verhale sal geredigeer word voor publikasie, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.

Hoewel die bundel die feestema as titel sal hê, hoef skrywers dit nie as tema vir die verhaal te gebruik nie. Die tema van die verhaal word geheel en al aan die skrywer oorgelaat.

Daar sal ongeveer 25 verhale vir die bundel gekies word. Die skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem word, sal elkeen ’n eenmalige betaling van R5 000 ontvang, terwyl die skrywer van die wenverhaal R30 000 ontvang.