Hy loop al vyf jaar met dié idee, sê Deon Opperman

“Ek ag myself nie ’n ‘boodskap’-dramaturg nie. Ek probeer altyd om ‘n ‘slice of life’ aan te bied waarin my gehore realiteite en probleme wat tot hulle eie lewens relevant is, konfronteer, en saam met die karakters deur daardie uitdagings werk.”

Só vertel die tweemalige Hertzogpryswenner Deon Opperman. ’n Nuwe toneelstuk uit sy pen, Die negende stap, is vanjaar by die Toyota US Woordfees te sien.

Die negende stap grawe diep in die verhouding tussen ’n ma (Elsabé Daneel) en haar dogter (Marisa Drummond).

Deon Opperman vertel meer.

Waaroor handel Die negende stap, waaroor handel dit en wat maak jou opgewonde oor die produksie?

Die stuk handel oor ’n ma en haar dogter se worsteling met ’n helse probleem wat hulle albei, uit teenoorgestelde kante, gedwing is om te konfronteer. Dit is ’n probleem waarmee duisende mense in Suid-Afrika, en dwarsoor die wêreld, tans worstel. Dit is hartverskeurend. Teen die einde van die drama kom vergifnis en versoening, maar nie voor beide ma en dogter se siele kaalgestroop word nie.

Vanwaar die titel “Die negende stap”? 

Die titel verwys na “die negende stap” in Alkoholiste Anoniem se twaalf stappe na herstel. Die negende stap gaan oor jammer sê, regmaak met dié wat jy seergemaak het, vergifnis en versoening.

Die stuk handel oor alkoholisme en dwelmverslawing, en die kwessie is: Wie moet vir wie jammer sê? Die ma vir haar verslaafde, alkoholis-dogter? Die dogter vir die ma? Of albei vir mekaar?

Ek kan jou waarborg daar gaan nie ’n enkele lid van die gehoor uitstap wat nie diep geruk sal wees nie.

Wat het jou inspireer om die teks te skryf?

My inspirasie vir my dramas was nog altyd die samelewing soos ek dit om my sien en ervaar.

Dan skryf ek oor situasies waarin ek self diep belangstel en wat ek glo ook vir my gehore van belang sal wees. 

Vertel asseblief meer oor die rolverdeling – hoe is daar op dié geselskap besluit?

Ek loop al die afgelope vyf jaar met die idee vir hierdie drama rond, maar ek was nog nie seker in watter vorm ek die verhaal sou vertel nie. Toe, verlede jaar, het Elsabé en Marisa my kom sien en my gevra om vir die twee van hulle ’n verhoogstuk te skryf.  Dis toe ek besluit: Raait, die drama sal ’n “two-hander”-stuk wees vir twee vrouens – ’n ma en haar dogter. So, ek het die stuk spesiaal vir die twee van hulle geskryf, met ’n storie wat ek al vir vyf jaar lank wou vertel.    

8 Maart 17:00, 9 Maart 20:30, 10 Maart 10:00, 12 Maart 20:30, 13 Maart

10:00 | 80 min | kykNET HS Stellenbosch | R150 – R190 | R220 by die deur

KLIK HIER vir kaartjies

Facebook
Twitter
LinkedIn