fbpx

borge

Toyota US Woordfees | Woordfees TV Borge

Toyota

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) is trots daarop om so ’n gesogte fees na die sitkamers van kuns- en kultuurliefhebbers oor die hele land heen te neem. Ons betreur dit dat Covid-19 dit onmoontlik gemaak het om geleenthede soos die Toyota US Woordfees in lewende lywe voor gehore op te voer, maar ons hoop dat die TV-opwipkanaal ons sal help om meer sinvolle verbintenisse met ons gehore te bou aangesien ons kuns en kultuur as belangrike bestanddele van sosiale kohesie beskou.

Hoewel ons sensitief bly vir die werklikheid dat die meeste kunstenaars weens Covid-19-beperkings steeds finansieel geweldig swaarkry, beskou ons die TV-opwipkanaal as ’n ideale kompromie – ons wil die lewe van ons kunstenaars sowel as ons feesgangers beskerm. Ons hoop dat ons gehore die feit sal koester dat hulle geen kaartjies hoef te koop, nie hoef te reis nie en die vryheid het om hul eie skedules op te stel of selfs die vertonings op te neem om later na te kyk.

TSAM wil graag weer bevestig dat sy vennootskap met die US Woordfees, Toyota in staat stel om ’n groter rol in die ontwikkeling en erkenning van kuns en kultuur in ons samelewing te speel.

  • Leon Theron, Senior Visepresident van Verkope en Bemarking: Toyota Suid-Afrika Motors

Universiteit Stellenbosch

Die Toyota US Woordfees se opwip-TV-kanaal is ’n toonbeeld van die Woordfeesspan se volgehoue innovasie. In alle bedryfsektore het die pandemie mense genoop om nuwe maniere van doen te ontwikkel en in die uitvoerende kunste was dit veral ’n opdraande stryd. Hierdie wonderlike inisiatief gee kunstenaars en gehore ’n unieke, veiligie manier om die betowering van die Woordfees te ervaar.

  • Prof. Wim de Villiers, rektor en vise-kanselier: Universiteit Stellenbosch 

Media24

Media24 is ’n trotse ondersteuner van die kunste, wat veral in hierdie ongewone tye waarin ons leef ‘n baken van hoop en inspirasie is. Dankie aan die organiseerders en kunstenaars, wat veral kwaai deur die pandemie geruk is, dat julle so toegewyd en ondanks al die uitdagings die kunste laat voortleef. 

Weens die pandemie staan verhoë landwyd leeg en is die feestente stil. Maar danksy die virtuele en ander hoogs innoverende oplossings en aanbiedings waarmee die Toyota US Woordfees vorendag kom, brand die kunstevure steeds hoog. Dankie dat ons onder meer vertonings in die gerief en veiligheid van ons huise kan bywoon, en ook vir die ander maniere waarop julle steeds geleenthede vir ons kunstenaars skep, asook ’n gemeenskap van feesgangers inspireer en dien.

Al het die gewilde Woordfees nou ‘n ander gedaante, is daar steeds ‘n stewige verskeidenheid aanbiedinge op die program. Trek dus gerus jou dagboek nader en ondersteun en geniet hierdie viering van ‘n onblusbare kreatiewe gees. Hopelik sien ons mekaar weer volgende jaar op Stellenbosch.

  • Ishmet Davidson, Uitvoerende hoof: Media24
dstv-logo-vector

DStv/MultiChoice

MultiChoice is opgewonde om die Toyota US Woordfees op DStv uit te saai en om die fees verder deur kykNET te ondersteun, wat reeds jare ’n mediavennoot is. Die uitvoerende kunste is hard deur die pandemie getref. Ons kreatiewe bedryf kan egter nie floreer sonder die energie en talent wat gekweek word by die teaters en kunstefeeste wat tans veg om oorlewing nie. Ons hoop hierdie TV-fees sal die kunste nader bring aan ons kykers en dat hulle hierdie fantastiese inhoud in die gemak en veiligheid van hulle eie huise sal geniet

  • Gideon Khobane, MultiChoice-groephoof: Algemene vermaak
Asset 18@2x

kykNET

As gevolg van Covid-19 moes kunstenaars om den brode eksperimenteer en nuwe platforms vind. Die Afrikaanse feeste het leiding geneem en het, met verskeie projekte, struktuur en vernuwing in ons bedryf teweeg gebring.

’n Opwindende nuwe inisiatief in hierdie tradisie is die Toyota US Woordfees se opwip-TV-kanaal wat die fees na ons voorkamers bring – die veiligste plek om te wees.

Die oorlewing van die kunste maak saak, want mense maak saak. Opvoerings en uitvoerings is een van die kragtigste maniere om individue saam te bring en gemeenskappe te bou deur ’n gedeelde ervaring. Dit is by uitstek wat feeste doen.

Daarom belê kykNET elke jaar in al ons vervaardigende feeste en die Fiëstas om terug te ploeg in ons kunste en vermaaklikheidsbedryf, waaruit gehaltetalent vir ons programme ontgin word. Ons is ook die enigste kanaal wat produksies van klassieke musiek opneem en uitsaai. 

kykNET is baie trots om deel te wees van hierdie projek. Dié opwipkanaal is ’n eerste en verfrissende toevoeging tot DStv se aanbod van kanale – ’n unieke, eenmalige geleentheid om die Woordfees saam dwarsoor die land en tot in Nambië te ervaar.

  • Karen Meiring, namens kykNET