fbpx
Toyota US Woordfees | Woordfees TV

Sit die Woordfees in jou huis aan

Die Toyota US Woordfees vind vanjaar dwarsoor Suid-Afrika en Namibië plaas – eksklusief op DStv. Die Woordfees TV-fees is geskeduleer vir DStv-kanaal 198 vanaf 1 tot 7 Oktober 2021.

Alle DStv-intekenaars met ’n Premium- of Compact Plus-pakket sal toegang tot dié opwipkanaal hê. 

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, is opgewonde oor dié nuwe konsep: “ ’n Opwip-TV-fees is ’n wonderlike, veilige manier om die kunste dwarsoor die land te stimuleer, te ondersteun, te deel en te vier. Die Woordfees-TV-model maak dit vir ons moontlik om ons handelsmerk lewendig te hou, inkomstegeleenthede vir kunstenaars te skep en blootstellingsmoontlikhede te gee aan ons borge, wat ons so getrou deur die pandemie ondersteun. Ons is baie dankbaar vir die bydraes van Toyota, Universiteit Stellenbosch, kykNET, MultiChoice en Media24 waarsonder hierdie TV-fees nie moontlik sou wees nie.”

Toyota US Woordfees TV word vanaf 1 tot 7 Oktober 2021 op DStv-kanaal 198 aangebied. Hou Woordfees se sosialemediaplatforms dop vir nuwe inligting rondom die TV-fees.

Die fees-TV-aanbod sal die meeste genres dek wat gewoonlik deel van die program is: boeke en skrywers, toneel, kontemporêre en klassieke musiek, stand-up-komedie, leefstyl, diskoers, visuele kuns en dans. Daar sal ook herhalings van uitgesoekte inhoud op die fees-TV-kanaal wees.

Die program word saamgestel spesifiek met TV in gedagte. Deelname sal dus hoofsaaklik op uitnodiging wees, maar kunstenaars wat onlangse opnames van geskikte bestaande werk het wat aan die tegniese vereistes vir uitsending voldoen, sal die geleentheid hê om hierdie werk voor te lê vir keuring.

Aansoekvorms en riglyne oor tegniese spesifikasies is hier beskikbaar.

Aansoeke sluit op 15 Julie 2021.

Die programinhoud en uitsaaitye van die Toyota US Woordfees TV sal in September in die media bekend gemaak word. 

In samewerking met die Woorde Open Wêrelde (WOW) Projek, sal die feesprogram ook opvoedkundige elemente bevat.

Alle narratiewe inhoud en gesprekke sal Engelse onderskrifte hê.

Vir borgverwante sake en om op die kanaal te adverteer, kontak asseblief vir Karin van Niekerk: karinvn@sun.ac.za

Toyota US Woordfees | Woordfees TV