Wen R10 000 vir ’n radiodrama van 10 minute – in Afrikaans, Engels of isiXhosa

Die eerste Klaskamer Radiodramakompetisie is op soek na werk wat sal aanklank vind by leerders tussen 13 en 16 jaar en geskik is vir gebruik in die klaskamer.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie, maar die radiodrama moenie langer as 10 minute wees nie. Die kompetisie is oop vir alle Suid-Afrikaanse skrywers en radiodramas kan in Afrikaans, Engels en isiXhosa gelewer word. Wenners ontvang R10 000 vir die wendrama per taalkategorie. Dus R10 000 elk vir die wendramas in Afrikaans, Engels en isiXhosa. 

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 14 Januarie 2022 om 17:00 en die wenners word op 28 Januarie 2022 bekend gemaak. Slegs een inskrywing word per skrywer aanvaar.

Dié nuwe kompetisie word in vennootskap aangebied deur die WKOD, RSG en die US Woordfees.

Anina Lundie, Senior Kurrikulumbeplanner vir Skeppende Kunste by die WKOD, sê: “Die Radiodramakompetisie word aangebied as deel van ’n opleidingsprojek vir onderwysers om hul vaardighede in die aanbied van radiodrama in die klaskamer te ontsluit. Daar lê groot waarde in hierdie medium as deel van die vak Skeppende Kunste omdat die leerder se drama- sowel as taalvaardighede op ’n kreatiewe en innoverende manier ontwikkel word. Die WKOD het groot waardering vir hierdie geleentheid om saam met die US Woordfees en RSG te werk en só te verseker dat die projek in die professionele radiodramabedryf geanker is.”

Volgens Kobus Burger, senior mandaatregisseur by RSG is die wêreld van klank, danksy selfone, nou binne almal se bereik: “Jy kan letterlik met die toestel in die palm van jou ’n hand ’n storie vertel. RSG is opgewonde om met die WKOD en die Woordfees hande te vat om ’n nuwe geslag storievertellers die kans te bied om hul verhale met klank te vertel.”

Ook die direkteur van die US Woordfees en WOW-projek, Saartjie Botha, is opgewonde oor dié inisiatief: “Die kompetisie bring die skeppende omgewing en onderwys nader aan mekaar. Ons is bevoorreg om dit saam met twee gewaardeerde vennote van die Woordfees en WOW aan te bied.”

Klik hier vir die aanlyn inskrywingsvorm en die reëls en riglyne in Afrikaans; hier vir Engels en hier vir isiXhosa.

Facebook
Twitter
LinkedIn