fbpx

Die Woordfees Kunstenaarsweek wil nuwe hoop en nuwe werk skep

In die eerste Toyota US Woordfees Kunstenaarsweek sal kunstenaars die geleentheid kry om hul vaardighede, idees en konsepte te slyp en te verfyn onder leiding van vooraanstaande fasiliteerders, waaronder die teatermakers Andrew Buckland en Sylvaine Strike, die danser-choreograaf Gregory Maqoma en die digter en verhoogkunstenaar Jolyn Phillips.

Die Toyota US Woordfees Kunstenaarsweek sal van 6 tot 11 April 2021 in Stellenbosch in samewerking met die Universiteit Stellenbosch, NATi,  kykNET, Tribuo, Toyota en ander vennote aangebied word.

Alle professionele Suid-Afrikaanse kunstenaars met loopbane in die uitvoerende kunste is welkom om aansoek te doen. Deelnemers sal ook kan aansoek doen vir finansiële ondersteuning om die koste van reis en/of verblyf te dra. Hierdie ondersteuning sal wissel van gedeeltelike tot volle dekking van die koste. Deelname aan die aktiwiteite is gratis vir alle kunstenaars wat gekeur word. ’n Komitee sal ’n maksimum van 50 deelnemers kies wat die wydste moontlike diversiteit van dissiplines, ervaring, ouderdom en individuele vaardighede verteenwoordig.

Die doel van die projek is om ’n gefokusde program aan kunstenaars van alle dissiplines te bied wat nadenke aanmoedig, kreatiwiteit stimuleer en deelnemers die kans gee om te herlaai.

Gedurende ’n ses dag lange slypskoolprogram sal die gekeurde kunstenaars deelneem aan ’n reeks van werkswinkels, seminare, kreatiewe projekte en geleenthede tot selfondersoek en refleksie.

Van alle deelnemers sal verwag word om ’n projekkonsep in samewerking met die ander deelnemers en dissiplines te ontwikkel. Hierdie nuwe konsepte sal, indien die dan geldende Covid-protokolle dit toelaat, aan die einde van die Kunstenaarsweek as opwipvertonings in onkonvensionele ruimtes in Stellenbosch aangebied word. Só sal die Kunstenaarsweek ook hopelik nuwe lewe kan blaas in ’n dorp wat swaar deur die pandemie en die gepaardgaande verlies aan koopkrag en toerisme getref is.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW, verduidelik die motivering agter die Kunstenaarsweek as volg:

“Vir ons kunstenaarsgemeenskap het die Covid-pandemie nie net met ’n dramatiese verlies aan werkgeleenthede en inkomste gepaard gegaan nie, maar ook ’n noodgedwonge skeiding van die verhoogruimtes wat hul kreatiwiteit voed, teweeg gebring. 

“Geslote teaters en gekanselleerde kunstefeeste het kunstenaars ontneem van die seisoenale patrone wat hul lewensritmes bepaal en ’n mate van gemoedsrus verskaf het in ’n bedryf waarin onsekerheid ook in goeie jare ’n gegewe is. Fisiese inperking het dus sowel ’n finansiële as psigiese tol geëis.

“Sommige kunstenaars kon met wisselende sukses hul uitvoerende werk aanlyn skuif en van die huis af werk, maar vir die oorgrote meerderheid van die kunstenaarsgemeenskap was dit nie ’n werkbare alternatief nie. Dit het ook intussen duidelik geword dat aanlyn optredes en kommunikasie geen bevredigende, volhoubare oplossing is nie.

“Daar is geen enkele antwoord op die uitdagings wat ’n beleërde kunstebedryf in die gesig staar nie, maar daar is een aspek waarsonder herstel ondenkbaar is: Sonder gemeenskapsondersteuning kan ons kunstenaars nie gehelp word nie.

“Die Woordfees Kunstenaarsweek wil vir kunstenaars ’n gemeenskap skep waarbinne hul ’n gevoel van eiewaarde en selfvertroue in hul vaardighede kan herwin en ook nuwe idees kan ontwikkel en beproef.

“Kunstenaars sal waarskynlik weer, soos dikwels in die verlede ná ’n globale krisis, die voorste ondersoekers en verkenners van die nuwe post-Covid wêreld wees. Daarom moet hulle nou gekoester en gestimuleer word. Ons hoop dat die kunstenaarsweek die vonk sal verskaf om werk te skep wat ons gehore sal vermaak en vertroos, en sal getuig van insig en meelewing. ”

Klik hier om aansoek te doen vir die Toyota US Woordfees Kunstenaarsweek.

Die sluitingsdatum vir aansoeke is 17 Februarie 2021. Geen laat aansoeke sal oorweeg word nie. Kunstenaars sal teen 5 Maart 2021 hoor of hulle vir deelname gekeur is.

Vir verdere inligting oor aansoeke, stuur e-pos na: wf2021@sun.ac.za

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn
Share on google
Google+
Lees ander berigte
Nuus
Woordfees

Flikker & Flash: Wat jy moet weet

Waar: Stellenbosch-middedorpWanneer: Vrydag en Saterdag, 9 en 10 April Aanbiedings:Vrydag, 9 April, 18:30 – 21:30:’n poësie- en musiekaandSaterdag, 10 April, 16:00 – 18:00:Straatsoiree, aangebied deur Stellenbosch Wine

Lees meer »