Die Woordfees kom huis toe – na jou toe

Die Toyota US Woordfees vind vanjaar dwarsoor Suid-Afrika en Namibië plaas – eksklusief op DStv. Die Woordfees TV-opwipkanaal première op DStv-kanaal 150 vanaf 1 tot 7 Oktober 2021.

Alle DStv-intekenaars met ’n Premium- of Compact Plus-pakket sal toegang tot dié opwipkanaal hê. Die fees-TV-aanbod sal die meeste genres dek wat gewoonlik deel van die program is: boeke en skrywers, toneel, kontemporêre en klassieke musiek, stand-up-komedie, leefstyl, diskoers, visuele kuns en dans. Daar sal ook herhalings van uitgesoekte inhoud op die fees-TV-kanaal wees.

In samewerking met die Woorde Open Wêrelde (WOW) Projek, sal die feesprogram ook opvoedkundige elemente bevat. Alle narratiewe inhoud en gesprekke sal Engelse onderskrifte hê.

Die program word saamgestel spesifiek met TV in gedagte. Deelname sal dus hoofsaaklik op uitnodiging wees, maar kunstenaars wat onlangse opnames van geskikte bestaande werk het wat aan die tegniese vereistes vir uitsending voldoen, sal die geleentheid hê om hierdie werk voor te lê vir keuring. Aansoekvorms, besonderhede oor die aansoekproses en riglyne oor tegniese spesifikasies is op die Woordfees se webwerf beskikbaar. Aansoeke sluit op 15 Julie 2021. Die programinhoud en uitsaaitye van die Toyota US Woordfees TV sal in September 2021 in die media bekend gemaak word.

“MultiChoice is opgewonde om die Toyota US Woordfees op DStv uit te saai en om die fees verder deur kykNET te ondersteun, wat reeds jare ’n mediavennoot is. Die uitvoerende kunste is hard deur die pandemie getref. Ons kreatiewe bedryf kan egter nie floreer sonder die energie en talent wat gekweek word by die teaters en kunstefeeste wat tans veg om oorlewing nie. Ons hoop hierdie TV-fees sal die kunste nader bring aan ons kykers en dat hulle hierdie fantastiese inhoud in die gemak en veiligheid van hulle eie huise sal geniet,” sê Gideon Khobane, MultiChoice-groephoof: Algemene vermaak.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, is opgewonde oor dié nuwe konsep: “ ’n Opwip-TV-fees is ’n wonderlike, veilige manier om die kunste dwarsoor die land te stimuleer, te ondersteun, te deel en te vier. Die Woordfees-TV-model maak dit vir ons moontlik om ons handelsmerk lewendig te hou, inkomstegeleenthede vir kunstenaars te skep en blootstellingsmoontlikhede te gee aan ons borge, wat ons so getrou deur die pandemie ondersteun. Ons is baie dankbaar vir die bydraes van Toyota, die Universiteit Stellenbosch, kykNET, Multichoice en Media24 waarsonder hierdie TV-fees nie moontlik sou wees nie.”

Die borge van die Woordfees het die nuwe formaat van die 2021-fees verwelkom.

Leon Theron, Senior Visepresident van Verkope en Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, deel Botha se entoesiasme: “Ons is trots daarop om so ’n gesogte fees na die sitkamers van kuns- en kultuurliefhebbers oor die hele land heen te neem. Ons betreur dit dat Covid-19 dit onmoontlik gemaak het om geleenthede soos die Toyota US Woordfees in lewende lywe voor gehore op te voer, maar ons hoop dat die TV-opwipkanaal ons sal help om meer sinvolle verbintenisse met ons gehore te bou aangesien ons kuns en kultuur as belangrike bestanddele van sosiale kohesie beskou.”

Prof. Wim de Villiers, rektor en vise-kanselier van die Universiteit Stellenbosch, sê die opwip-TV-kanaal is ’n toonbeeld van die Woordfeesspan se volgehoue innovasie. “In alle bedryfsektore het die pandemie mense genoop om nuwe maniere van doen te ontwikkel en in die uitvoerende kunste was dit veral ’n opdraande stryd. Hierdie wonderlike inisiatief gee kunstenaars en gehore ’n unieke, veilige manier om die betowering van die Woordfees te ervaar.”   

Ook Ishmet Davidson, CEO of Media24, het sy waardering teenoor die Woordfees vir die nuwe inisiatief uitgespreek: “Dankie dat ons onder meer vertonings in die gerief en veiligheid van ons huise kan bywoon, en ook vir die ander maniere waarop julle steeds geleenthede vir ons kunstenaars skep, asook ’n gemeenskap van feesgangers inspireer en dien.”

“kykNET is baie trots om deel te wees van hierdie projek,” sê Karen Meiring, namens kykNET. “Dié opwipkanaal is ’n eerste en verfrissende toevoeging tot DStv se aanbod van kanale – ’n wonderlike, eenmalige geleentheid om die Woordfees saam dwarsoor die land en tot in Nambië te ervaar.”

Toyota US Woordfees TV word vanaf 1 tot 7 Oktober 2021 op DStv-kanaal 150 aangebied. Hierdie uitsaaidatums mag verander indien dit deur Covid-inperkings genoodsaak word.

Klik hier vir aansoekvorms om bestaande werk vir die TV-fees in te skryf.

Hou woordfees.co.za en die Woordfees se sosialemediaplatforms dop vir nuwe inligting rondom die TV-fees.

Facebook
Twitter
LinkedIn