Toyota US Woordfees

André van der Merwe ontvang Kanselierstoekenning

André van der Merwe is al 17 jaar lank dirigent van die internasionaal gerekende Stellenbosch Universiteitskoor. Hy word vanjaar met ’n Kanselierstoekenning vir sy werk vereer.

Die gesogte Kansellierstoekennings gee erkenning aan personeellede van die Universiteit Stellenbosch wie se loopbane van volgehoue uitnemendheid in navorsing, innovasie, leer en onderrig, sosiale impak en/of professionele dienste getuig.

Onder André se leiding het die US Koor, onder meer, die volgende prestasies bereik:

  •  By die 2014 Wêreld Koorspele in Riga, Letland, wen die koor al drie kompetisie-kategorieë waaraan hulle deelneem en behaal die hoogste punte in die geskiedenis van die kompetisie met 99%.
  • Die koor wen ook in 2016 in Sotsji, Rusland, al drie kompetisiekategorieë waaraan hulle deelneem en behaal die hoogste punt tydens die Wêreld Koorspele met 96%.
  • In 2018 neem die koor in drie kategorieë aan die Llangollen Internasionale Eisteddfod in Wallis deel, en wen die Ope-, Jeug-  en Gemengde kore-afdeling. André

Die US Koor is die afgelope ses jaar nommer een op die Interkultur-wêreldranglys van die topduisend- internasionale kore.

Van der Merwe is verheug oor die toekenning: “Die Kanselierstoekenning is ’n wonderlike verrassing in ’n moeilike jaar. Dit is eintlik ’n toekenning aan spanwerk. Die koor word bestuur deur die Toyota US Woordfees. En hulle doen dit met soveel integriteit. Die Woordfeesspan en die breër US skep ’n ruimte waar die koor sy vlerke kan sprei.

Ek dra die toekenning op aan elke koorlid wat die afgelope 17 jaar die pad saam met my gestap het. Ek glo die US Koor is ’n instrument van hoop en nasiebou.”

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW, deel André se vreugde: “Niemand wat na die US Koor luister, is onaangeraak nie. André van der Merwe het die Universiteit Stellenbosch se trotse koortradisie ’n internasionale platform gegee.  Waar die koor optree, word brûe gebou. ’n Koor is egter net so goed soos sy dirigent. Ons salueer André se reuse-impak en sy besonderse talent.”

Van der Merwe sal die Kanselierstoekenning by ’n gradeplegtigheid op 14  Desember 2020 in ontvangs neem. Daar is vanjaar veertien ander US-personeellede wat eweneens hierdie eerbewys ontvang.

Klik hier om meer oor sy loopbaan te lees.

Vir meer inligting of om ’n onderhoud met André van der Merwe te reël, kontak Corné Kruger: sing@sun.ac.za

Facebook
Twitter
LinkedIn