Hierdie skrywers het die US Woordfees Kortverhaalbundel 2021 gehaal

Vier-en-twintig verhale is gekies vir publikasie in die nuwe US Woordfeeskortverhaalbundel, wat by die Toyota US Woordfees 2021 vanaf 17-24 September te koop sal wees. Dié kortverhaalbundel, wat sedert 2016 jaarliks gepubliseer word, se titel is altyd dieselfde as die feestema, maar omdat die fees as gevolg van die Covid-pandemie volgende jaar vanaf Maart na September verskuif is, sal die feestema, en daarmee ook die titel van die bundel, eers volgende jaar bekend gemaak word.

Die algehele wenner, wat by die bundelbekendstelling gedurende die 2021-fees aangekondig sal word, wen R30 000 geborg deur Du Toitskloof Wyne. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000.

“Met die meeste vorige bundels het daar ‘n dominante tema of temas na vore gekom, maar vanjaar was dit interessant genoeg nie die geval nie. Daar is wel verhale met Covid-19 as onderwerp, maar dit oorheers glad nie te midde van ‘n wye verskeidenheid temas nie,” sê Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is. “Soos met ál die vorige bundels was die gehalte hoog en dit moeilik om net 24 kortverhale en ’n uiteindelik wenner te kies.”

Die ander twee beoordelaars saam met Kotzé-Myburgh was Valda Jansen en Marius Swart.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, is opgewonde oor die volgehoue belangstelling in die feesbundel: “In hierdie moeilike jaar het ons verlang na gemeenskap en gesprek. Die feit dat ons 288 inskrywings vir ons kortverhaalbundelkompetisie ontvang het, onderstreep hierdie feit. Vanjaar besef ’n mens deeglik dat die US Woordfeeskortverhaalbundel ’n warm en kosbare uitnodiging tot verdere nadenke en gesprek is. Ons sien uit daarna om hierdie skrywers by die 2021-fees te verwelkom.”

Ed Beukes, woordvoerder van Du Toitskloof Wyne, beklemtoon ook die rol wat stories in ’n gemeenskap speel: “Goeie stories word gedeel om die tafel. Dit is hierdie tafel wat vir Du Toitskloof nog altyd ’n plek was waar mense bymekaar kan kom om ’n glasie te kan klink op mekaar. Geluk aan al die talentvolle skrywers wie se kortverhale opgeneem is in die bundel en dankie ook aan elkeen wie hul storie ingeskryf het. Ons sien uit om in September 2021 weer aan die Woordfeestafel te kan saam sit om woorde en wyn te vier.”

Die lys van skrywers wat in die 2021 US Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:

  1. Coen Basson
  2. Karien Brits
  3. Dan du Plessis
  4. Illona Edwards
  5. Ryno Eksteen
  6. Brian Fredericks
  7. Audrey Jantjies
  8. Tarina Jordaan
  9. Lynthia Julius
  10. Sisca Julius
  11. Anna Kemp
  12. Jennie Kruger
  13. Karen Loots
  14. Isabel Martinson
  15. Michèle Meyer
  16. Estelle Nagel
  17. Wessel Pretorius
  18. Deborah Steinmair
  19. Adriaan Steyn Hendricks
  20. Amorine Strydom
  21. Gerda Taljaard
  22. Jaco van der Merwe
  23. Madeleen Welman
  24. Jelleke Wieringa


Vir verdere inligting of om ’n onderhoud te reël, kontak vir Danie Marais by danie_marais@sun.ac.za. Vir meer inligting oor die US Woordfeeskortverhaalbundel, klik hier.

Die Toyota US Woordfees word van 17-24 September 2021 in Stellenbosch aangebied.

Facebook
Twitter
LinkedIn