Skud jou vere reg vir ’n wilde Woordfees – in jou huis én in die Bos  

Die tema vir die 2022 Toyota US Woordfees is Wild – ’n speelse konsep wat feesdirekteur, Saartjie Botha, sê haar “bruisend entoesiasties maak oor die twee Woordfeeste wat ons vanjaar gaan vier na twee jare van nasionale kommer en frustrasie in en oor die kunstebedryf.”          

“Wild,” sê Botha, “is wat jy raak wanneer jy niks meer het om te verloor of weg te steek nie; wanneer jy wil losbreek van vrees en voorbehoud. Dis soms presies wat nodig is om jou lewe te herower en nuwe moed en asem te skep. Wild is outentiek en noodsaaklik vir daardie soort uitdagende kuns wat nuwe deure in die kop oopmaak. Niks is wilder en meer bevrydend as die verbeelding nie en in die afgelope twee jaar is kreatiewe energie opgegaar wat nou ’n uitlaatklep soek.”

“Vanjaar fees ons dus kleiner maar met nuwe vuur en op twee verskillende platfoms – landwyd op DStv en ook op GOtv in Namibië van 15 tot 28 Julie, en van 10 tot 16 Oktober in Stellenbosch – ’n dag langer as aanvanklik beplan.”

Ná die sukses van Woordfees TV 2021 (die eerste kunstefees in die land wat van 1 tot 10 Oktober op ’n DStv-opwipkanaal  aangebied is) het MultiChoice besluit om vanjaar weer ’n kanaal beskikbaar te stel en dié keer vir ’n volle 14 dae. Verlede jaar se TV-fees is aanvanklik vir sewe dae beplan, maar is op aanvraag met ’n naweek verleng.

“Ons is trots daarop om weer met Woordfees TV assosieer te word. Dié kanaal maak dit nie net moontlik om relevante vermaak aan ons kykers te verskaf nie, maar dis ook belyn met ons verbintenis tot die ondersteuning van en die uitbou van plaaslike inhoud. Deur ons Afrikaanse kykers toegang tot die Woordfees-opwipkanaal te gee, ondersteun ons die kunste, kultuur, vermaak en letterkunde deur die gehoor van hierdie reeds gewilde fees verder te verbreed,” sê Gideon Khobane, MultiChoice-groephoof van algemene vermaak.

In 2021 het slegs intekenaars met ’n Premium- of Compact Plus-pakket toegang tot dié Woordfees-TV-opwipkanaal gehad. Vanjaar sal ook intekenaars met ’n Compact- of Family-pakket Woordfees TV kan kyk. In Namibië sal die kanaal wel aan Compact-intekenaars beskikbaar wees, maar nie ook op die Family-pakket nie. Woordfees TV sal daarbenewens in Namibië op GOtv-kanaal 27 uitgesaai word waartoe sowel Max- en Supa-intekenaars toegang sal hê. Dit beteken dat ’n groter gehoor hulself hierdie winter in hulle voorkamers om die feesvuur sal kan verwarm.

Die fees-TV-aanbod sal vanjaar weer die meeste genres dek wat gewoonlik deel van die program is: EasyEquities Skrywersfees, kykNET Toneel, kontemporêre musiek met die Toyota Groot Vyf-konsertreeks en Standard Bank Jazz-aanbieding, klassieke musiek, Savana Stand-up-komediefees, Stellenbosch Wynroetes Leefstyl, Netwerk24 Diskoers, Strauss & Co Visuele Kuns en dans. Die Standard Bank-landboureeks is vanjaar ook op die program. Herhalings van die gewildste TV-feesaanbiedings van 2021 sal buite spitskyktye uitgesaai word. Nuwe programme wat vir 2022 vervaardig word, sal op DStv Catch Up beskikbaar wees.

In samewerking met die Woorde Open Wêrelde (WOW) Projek, sal die feesprogram ook opvoedkundige elemente en ’n spelfeeskompetisie bevat.

Alle narratiewe inhoud en gesprekke sal Engelse onderskrifte hê.

Die programinhoud en uitsaaitye van die Woordfees TV sal op 21 Junie 2022 in die media bekend gemaak word.

Toyota US Woordfees TV 2022 word vanaf 15 tot 28 Julie op DStv-kanaal 150 aangebied. Hou woordfees.co.za en die Woordfees se sosialemediaplatforms dop vir nuwe inligting rondom die TV-fees.

Facebook
Twitter
LinkedIn