WOW-VERSLAG: 2009 tot 31 Maart 2010
INLEIDING
VISIE EN MISSIE
‘n Sterk fokus en doelgerigtheid is die geheim agter die WOW-projek se sukses. Met die volgende missie en visie sluit dié projek direk by die Woordfees aan:
MISSIE
Die Woorde Open Wêrelde-projek wil perspektiewe verruim ter bevordering van taal, letterkunde (lees), die kunste en die gehalte van veral letterkunde-onderrig in skole, ten einde leerders te help bemagtig en hulle aan te moedig om hul potensiaal te ontsluit, onder meer deur verdere studie.
VISIE
Die WOW-Projek, as deel van die Woordfees en die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, streef die volgende doelstellings na in aansluiting by bogenoemde missie:
TEN EINDE DIT TE BEREIK, ONDERNEEM ONS:
Dramaprojek
In September 2009 het 174 leerders van ses skole die drama-kompetisie bygewoon – vir die meeste ‘n eerste teater-ervaring. Hierdie projek, ondersteun deur die ATKV, wil enersyds leerders se talente ontgin en hulle andersyds bewus maak van drama (en verwante beroepe) as ‘n studierigting. Leerders verwerk ‘n teks uit hul voorgeskrewe reeks tot ‘n eie produksie en stuur dit in vir beoordeling. Die gekeurde groepe woon intensiewe werkswinkels in praktiese teateraspekte by, in samewerking met die US Departement Drama. By die finale kragmeting in Oktober 2009 is die eerste pryse onderskeidelik deur Worcester Sekondêr vir hul drama, en Eersterivier Sekondêr met hul woordkunsprogram, verower. Die wendrama, Cognito, sal ook tydens die WOW-Dag vir die ander leerders opgevoer word, terwyl die woordkunsprogram vir die onderwysers opgevoer word.
WOW-Dag: Drama-onderwysers
Tydens vanjaar se Woordfees het die WOW-projek ook vir die eerste keer ‘n werkswinkel aangebied waar drama-onderwysers se talente en tegnieke geslyp is in die skryf van nuwe tekste, die verwerking van tekste tot drama-produksies, in regie en spelleiding vir akteurs. Dit is aangebied in samewerking met Dirk & Reinet Nagtegaal en Distell en bekroonde dramaturge, akteurs en regisseurs Saartjie Botha, Daleen Kruger, Juanita Swanepoel en Nico Luwes. Pieter-Jan Kapp het aan onderwysers die belangrikheid van alle tegniese aspekte behandel.
Leesfeeste
Weens leerders se ernstige leesprobleme en gebrekkige motivering om te lees, gaan heelwat potensiaal verlore. Daarom wil die WOW-leesprojek graag leeskringe en leeshoekies vir hoërskoolleerders help vestig, asook leesfeeste by skole aanbied in ‘n poging om die leeskultuur te verbeter. Ook in aansluiting by die WKOD se leesbeleidsvereistes en ook om die belang van lees onder hul aandag te bring en boeke – vir baie leerders ‘n luukse wat net in skole gevind word – toegankliker en interessanter te maak ten einde lesers en boekkopers te help kweek. Die projek is reeds met groot sukses by verskillende laerskole aangebied, in samewerking met NB-Uitgewers. Gedurende die week van die Leesfees is 5 600 leerders van ses verskillende laerskole bereik, ‘n poppekasvertoning is aangebied en die skoolbiblioteek is aangevul met boekskenkings van NB-Uitgewers.
WOW-Leeskringe
Vanjaar neem die WOW-projek ook deel aan die ATKV-kinderboektoekennings en het ons reeds 30 leeskringe by 20 verskillende skole gestig met ‘n ledetal van ten minste 300 leerders. Hierdie WOW-leeskringlede lees en beoordeel die boeke in die verskillende kategorieë en so kry elke leser die geleentheid om ten minste vyf tot sewe boeke te lees en te bespreek. Die leesgroepe in die voorskoolse fase word aan hierdie wonderlike wêreld van boeke voorgestel deurdat hulle onder leiding van hul onderwysers sewe fantastiese storieboeke kan lees en ook die grafiese uitbeelding kan beoordeel. So kry leerders ‘n geleentheid om van jongs af ook hul visuele geletterdheid te verskerp.
Skrywersbesoeke, Graad 12
Dié projek, wat sinvol aansluit by die leerplan en ‘n groot meerwaarde vir beide leerders én onderwysers bied, word vanaf 2003 met groot sukses oor die hele Wes-Kaap aangebied. Skrywers wie se werk opgeneem is in Gr. 12 voorgeskrewe tekste (soos Storiejoernaal en Versjoernaal) bring tydens skoolbesoeke van 60-90 minute leerders in aanraking met die lewende skeppers van die letterkunde. Skrywers lees voor uit eie werk, gee inligting oor hul skrywersloopbaan en dien as rolmodelle by die aanpak van die kreatiewe skryfproses en die bereiking van sukses. Leerders se vrae laat blyk dikwels hoe sterk hulle belangstelling en kreatiwiteit gestimuleer word.
Gedurende 2009 het 8 410 leerders in 59 verskillende skole skrywersbesoeke meegemaak met die bekroonde Deon Meyer, EKM Dido, Dana Snyman, Johan Bakkes, Willem Fransman, Elias P. Nel, Willem D. Kotzé, Marzanne Leroux van der Boon, Diana Ferrus en Eben Venter. Tydens elke skoolbesoek word die leerders ook aangemoedig tot verdere studie en ontvang inligting oor studiemoontlikhede aan die Universiteit Stellenbosch. Tot en met 28 Februarie 2010 is daar reeds 5 527 leerders en 116 opvoeders van 40 skole bereik.
Gr. 12 WOW-Dag
Die doel met die WOW-dag is om Gr. 12-leerders die geleentheid te bied om vir ‘n dag lank Maties te word en die kampuslewe te ervaar, terwyl hulle terselfdertyd kultureel en opvoedkundig verryk word en bewus raak van nuwe moontlikhede. Op Saterdag 6 Maart 2010 het 905 Graad 12-leerders van 64 skole, vergesel deur 166 onderwysers en 22 finale-jaar Afrikaans-onderwysstudente van die UWK, die WOW-dag bygewoon. Vervoertoelaes en gratis etes is voorsien. Werkswinkels in kreatiewe skryf is onderskeidelik deur Nanette van Rooyen, Jan van Tonder; EKM Dido en Zulpha Otto-Salies aangebied. ‘n Uitvoering deur die simfonie-orkes in die Paul Roos Sentrum is entoesiasties bygewoon, waarna die wendrama, Op soek na Johnny September, besonder goed ontvang is. Peter de Villiers, Springbok-afrigter en Breyton Paulse, SuperSport-kommentator, het opgetree as motiveringsprekers. Ivor Price van Media24 het as gespreksleier opgetree met die 7de Laan-sterre, Pierre van Pletzen en Annelisa Weiland.
Skoolkoerantprojek
In samewerking met Jo-Ann Floris, Rykie van Reenen-genoot in die US se Departement Joernalistiek, is die vierde WOW-skoolkoerantprojek op Saterdag 6 Maart aangebied tydens die Woordfees. ‘n Voldagprogram met werksessies het 83 leerders en hul sewe onderwysers touwys gemaak oor die verskillende aspekte van joernalistiek en hoe om ‘n skoolkoerant interessant en prakties aan te pak. Leerders moes die feesterrein verken, kort onderhoude met feesgangers en kuns te naars voer, en hul eie feesblad saamstel. ‘n Hoogtepunt was die onderhoud met TV-sterre, Pierre van Pletzen en Annelisa Weiland van 7de Laan. Gordon Hoër was die wenner van die feeskoerant en hul prys was ‘n woordeboek, geskenk deur NB-Uitgewers.
Woelige Werkswinkels vir Graad 5 – 6-leerders
Hierdie uiters geslaagde werkswinkel met die klem daarop om taal te geniet en speel-speel te leer, is vir die tweede keer met groot sukses deur die WOW-projek aangebied. Vir leerders, onderwysers én aanbieders was die dag heeltemal te kort. Die leerders het opleiding ontvang in die skryf, voordrag en toonsetting van ‘n gedig. Diana Ferrus het die digwerk aangebied en Mathilda Walters-Vlok die voordrag van gedigte, terwyl Lelanie van den Bergh gefokus het op die ritme van skryfwerk. ‘n Opvolgsessie word in Julie 2010 beplan.
WOW-Debatfees
Hierdie was ‘n eerste vir die WOW-projek en is aangebied onder die bekwame leiding van Marieta Nel en haar komitee, en moontlik gemaak deur borgskappe van LAPA en die ATKV. Skole van so ver as die Oos- en Noord-Kaap was deel van die 32 skole, 96 leerders, 54 opvoeders en mentors, wat aan hierdie uiters geslaagde werkswinkels, gespreksforum en debatkompetisie deelgeneem het. Onderwerpe van bespreking het gehandel oor taal, erfenis en sosiale netwerke en het sprekers soos Koos Kombuis, Leon de Stadler, Martie Retief-Meiring en Ebrahim Rhoda gehad. ‘n Opvolgsessie word met skole op individuele basis hanteer en die moontlikheid vir nog ‘n debatfees-dag word ondersoek.
WOW-Visuele Kunsprojek
Hierdie was nog ‘n eerste vir die WOW-projek en is aangebied in samewerking met die departement Visuele Kuns onder die bekwame leiding van Verna Jooste en haar span studente. ‘n Werkswinkel in juweliersontwerp is aangebied, spesiaal vir Graad 12-leerders van die WKOD-fokusskole. Hierdie leerders maak hul eie koper-juwele onder leiding van Verna en haar span en ontvang ook inligting en leiding oor verdere studie in dié departement. Hierdie projek word opgevolg met ‘n WOW-Kunskompetisie wat vroeg in die tweede kwartaal afskop. Die wenners van hierdie kompetisie word geborg om deel te neem aan meestersklasse te die Kaleidoskoopfees op George in September.
WOW-Musiek Kunsprojek
Hierdie is ook ‘n eerste vir die WOW-projek en word aangebied in samewerking met die departement Musiek onder die bekwame leiding van Felicia Lesch en Pamela Kierman. ‘n Dag van werkswinkels in die verkillende genres van musiek sal aangebied word, spesiaal vir leerders wat Musiek as vak neem by die WKOD-fokusskole vir die Kunste. Hierdie leerders sal geslyp word in hul onderskeie genres en ontvang ook inligting en leiding oor verdere studie in dié departement. Hierdie dag word afgesluit met ‘n kort gala-dag waar wenners uit die onderskeie genres aangewys sal word en as prys sal hulle deelneem aan meestersklasse by die Kaleidoskoopfees op George in September.
WOW-Sokkertoernooi
Om aan te sluit by die Baljaar-tema van die Woordfees, het die WOW-projek ook ‘n sokkertoernooi op die program gehad. Hierdie is ook ‘n eerste vir die WOW-projek en is aangebied in samewerking met Stars in their Eyes, Aurora-koshuis en het gestaan onder die bekwame leiding van Rohan Bergstedt. ‘n Sokkerkliniek is vir tien o/9-spanne aangebied terwyl die o/11- en o/13-spelers om die WOW-trofeë meegeding het. Elkeen van die bykans 300 spelers het ‘n T-hemp van Stars in their Eyes ontvang, sowel as ‘n sokkerbal van SuperSport se Let’s Play. Hierdie toernooi sal ‘n jaarlikse instelling op die Woordfeesprogram word.
Mardi Gras
Die Woordfees het vanjaar vir die derde keer die baie gewilde Mardi Gras op Saterdag 14 Maart vanaf 09:00 tot 16:00 aangebied op die historiese Braak. Hierdie gratis verskeidenheidsprogram was ‘n groter sukses as in 2008. Dit het ongeveer 5 000 mense getrek, met Oscar Petersen as aanbieder, Errol van 7de Laan en Karen van Idols wat die skare vermaak het. Die N2 Jazz Band en die Amerikaner Sharon Katz en haar Kayamandi-groep het gesorg vir die musiek. Daar was ook stalletjies en springkastele wat deur jonk en oud geniet is. Hierdie feesvieringe is voortgesit tot 23:00 die aand op die Van der Stel sportgronde waar ‘n verskeidenheid stalletjies, mallemeule en verdere vermaak mense getrek het. Die sanggroep The Rockets het groot aftrek by karnavalgangers gekry.
Verf-, Vers- en Verhoogkompetisie: Werkwinkels
Met hierdie kompetisie word kreatiwiteit en ‘n liefde vir lees by leerders in die grondslag- en intermediêre fase aangewakker en opvoeders gemotiveer om taal-onderrig op ‘n vernuwende en kreatiewe wyse aan te pak. Elke leerder word gevra om ‘n oorspronklike en/of reeds bestaande kort gedig op ‘n A3-papier te skryf en dit dan visueel uit te beeld op kleurryke plakkate. Die uitstalling van die wenplakkate was vanjaar deel van die Woordfees se kunsuitstalling in die dorpsmuseum. Tydens die werkswinkels in Oktober by Vlottenburg Primêr het Diana Ferrus leerders onderrig in kreatiewe skryfwerk, die grafiese kunstenaars Janienke van Zyl en Anneke Streicher het leerders die strategiese krag van Visuele geletterdheid geleer; die Sasol Kunsmuseum en Rhenish Laerskool se onderwysers het leerders onderskeidelik leer verf en vingerverf. Ter afsluiting is die hoogs vermaaklike kinderproduksie Rooikappie aangebied. Die 175 leerders en hul onderwysers het ook ‘n ete sowel as sertifikaat van bywoning ontvang.
Spelkompetisie
Vanweë leerders se swak leesvermoë is die WOW-projek voortdurend besig met projekte om lees vir leerders prettig te maak. Die spelkompetisie, ondersteun deur Landbouweekblad en die ATKV, word reeds die afgelope vier jaar met groot sukses by Klapmuts Primêr, ‘n landelike skool net buite Stellenbosch, aangebied en het vanjaar uitgebrei na nog ‘n landelike skool, Weber Gedenk in Jamestown. Leerders neem deel aan uitdunrondes by die onderskeie skole, waarna die wenners kompeteer. By hierdie projek was 1 092 leerders en hul onderwysers betrokke as deelnemers en ondersteuners. Tydens die galadag is wenners vanaf graad 1 tot graad 8 aangewys van dié twee skole.
E-pos-kommunikasie
Hierdie nuwe projek-aksie wou in 2007 rekenaar-interaksie tussen leerders van Nederland en Suid-Afrika tot stand bring deur die uitruil van e-posadresse, ‘n eietydse weergawe van ‘n penvriendeprojek. Dit gee leerders die kans, in aansluiting by die projeknaam Woorde Open Wêrelde, om hul ervaringswêrelde te vergroot deur verskillende kulture te leer ken, vriendskappe te smee en ‘n lewensveranderende verbreding van denke te ondergaan. Dié loodsprojek met leerders van Atlantis en Klein Nederburg, vorm deel van ‘n groter inisiatief om Nederlands bekend te stel in skole en kan moontlik in die toekoms lei tot ‘n uitwisseling van leerders (en onderwysers) tussen WOW-skole en skole in die Nederlande.
Beurse
Vanaf 2006 word US-studiebeurse aan die WOW-projek gekoppel vir studie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, in samewerking met die US Sentrum vir Voornemende Studente. Die eerste beurshouer, Colin Hendricks, is ‘n joernalis by Rapport en doen reeds verslag oor heelwat stories. Van ons ander beurshouers is Dominique Wesso, ‘n finalejaarstudent in Politieke Wetenskap, Filosofie en Ekonomie, tans op ‘n besoek aan Taiwan. Tans is daar 13 WOW-beurshouers. Studente word ook gehelp in hul aanpassingsproses van skool na universiteit.
Personeel:
Vanweë die sterk groei van die WOW-projek is Shireen Crotz vanaf Oktober 2009 as administratiewe beampte aangestel.