2009

US WOORDFEES: WOW PROJEK

INLEIDING

  • Die WOW-projek is ’n taal bemagtigingsprojek van die US Woordfees, met leerders uit hoofsaaklik voorheen benadeelde gemeenskappe as teikengroep. Hierdie jaarprojek word reeds vanaf 2003 suksesvol bedryf.
  • Sedert April 2008 is dit, saam met die US Woordfees, geïdentifiseer as een van slegs ses vlagskipprojekte van die Universiteit se Gemeenskapsinteraksie – die enigste vlagskipprojek van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en die enigste US Gemeenskapsinteraksieprojek wat taal gerig is.
  • Die WOW-projek is in die Wes-Kaap gesetel en brei geweldig uit. Sedert 2006 word meer as 10 000 leerders en jongmense jaarliks daardeur bereik.
  • Die projek is in die eerste plek (soos die naam daarvan sê) daarop gerig om leerders se oë te open vir ruimer moontlikhede in ’n groter wêreld.
  • Dit wil leerders bemagtig deur hulle bloot te stel aan kreatiewe programme wat op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste gebaseer is.
  • Aangesien taalvermoë prestasie in alle vakrigtings (selfs Wiskunde) bepaal, word leerders se belangstelling in lees en die letterkunde gestimuleer en hul vaardighede uitgebrei.
  • Moeite word ook gedoen om belowende leerders te identifiseer en hulle aan te moedig tot tersiêre studie ten einde hul potensiaal te verwesenlik. Dertien WOW-studiebeurse is in 2008 met die oog hierop deur die Universiteit beskikbaar gestel.

VISIE EN MISSIE

’n Sterk fokus en doelgerigtheid is die geheim agter die WOW-projek se sukses.  Met die volgende missie en visie sluit dié projek direk by die Woordfees aan:

MISSIE

Die Woorde Open Wêrelde-projek wil perspektiewe verruim ter bevordering van taal, letterkunde (lees), die kunste en die gehalte van veral letterkunde-onderrig in skole, ten einde leerders te help bemagtig en hulle aan te moedig om hul potensiaal te ontsluit, onder meer deur verdere studie.

VISIE

Die WOW-Projek, as deel van die Woordfees en die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, streef die volgende doelstellings na in aansluiting by bogenoemde missie:

  • Om leerders van voorheen benadeelde skole te bereik en hul visie te verruim deur middel van die woord.
  • Om leerders én opvoeders bewus te maak van die wonder van boeke en die literatuur.
  • Om leerders bewus te maak van die korrelasie tussen leesvermoë en prestasie in alle skoolvakke en om leesvaardighede gevolglik te help verbeter.
  • Om by leerders ’n liefde en trots vir hulle moedertaal, Afrikaans, te kweek en aan hulle te toon dat Afrikaans ’n taal van moontlikhede en hoop vir hulle is.
  • Om kreatiwiteit ten opsigte van die mondelinge, geskrewe en visuele taal te bevorder en effektiewe kommunikasie binne verskeie sosiale kontekste te verwesenlik, onder meer deur die slyp van strategiese vaardighede.
  • Om ’n kennis en waardering vir die kunste te help stimuleer.
  • Om die US aan hulle bekend te stel as moontlike inrigting vir verdere studie.

TEN EINDE DIT TE BEREIK, ONDERNEEM ONS:

  • Om op kreatiewe wyse verbeeldingryke, goed-georganiseerde projekte aan te bied wat ingestel is op die bemagtiging van leerders.
  • Om relevante diens te lewer aan die gemeenskap in aansluiting by geïdentifiseerde behoeftes.
  • Om ‘n noue wisselwerking tussen navorsing, onderrig en gemeenskapsinteraksie te bevorder.
  • Om onder meer kwaliteit werkswinkels vir sowel leerders as opvoeders aan te bied, met vaardige, bekwame en gekwalifiseerde aanbieders met wie leerders kan identifiseer.
  • Om te fokus op onderrig wat rekening hou met die multikulturele samestelling van die Wes-Kaap en interaksie te bevorder.
  • Om leerders se kreatiewe én kritiese denke deur o.a. kompetisies en werkswinkels te help uitbou en hul talente te help ontwikkel, ten einde ’n meer verteenwoordigende skrywers- en kunstenaarskorps tot stand te help bring.
  • Om moedertaalonderrig te bevorder en terselfdertyd ’n meer verteenwoordigende studenteprofiel by die US te help bewerkstellig.

PROJEK-AKSIES

Skrywersbesoeke Graad 12

Skrywers wie se werk opgeneem is in Gr.12 se voorgeskrewe tekste lees tydens skoolbesoeke voor uit eie werk, bespreek dit en beantwoord vrae. Leerders ontvang inligting oor verdere studiemoontlikhede aan die US.

WOW-dag Graad 12

Gr. 12-leerders word Maties-vir-een dag, woon werkswinkels en die Mardi Gras by, ontmoet rolmodelle en gaan op kampustoere. Vervoertoelaes aan skole en gratis etes aan leerders en onderwysers word voorsien.

Beurse

Vanaf 2006 is twee US studiebeurse spesifiek aan die WOW-projek gekoppel vir studie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, in samewerking met die US Sentrum vir Voornemende Studente. Dit is vanaf 2008 aansienlik uitgebrei na dertien WOW-beurse, sodat studente deurlopend gemonitor kan word.

Skoolkoerantprojek

In samewerking met die US Departement Joernalistiek en Die Burger word werksessies van die die WOW-skoolkoerantprojek op die Saterdag van die Woordfees aangebied. Leerders voer onderhoude en stel ’n eie Woordfeeskoerant saam.

Verf-, Vers- en Verhoogkompetisie

Hierdie kompetisie wakker kreatiwiteit en ’n liefde vir lees aan by leerders in die grondslag-  en intermediêre fase vanoor die hele Wes-Kaap. Leerders skryf ’n kort gedig op A3-papier en maak ’n kleurryke plakkaat daarvan. Die werk word uitgestal en wenners word aangewys tydens ’n gala-dag by die Woordfees. Skole kom ook kort toneelstukke opvoer. Hierdie kompetisie begin reeds om aansienlike prestige-waarde in skole te verwerf.

Dramaprojek

Leerders verwerk ’n teks uit hul voorgeskrewe werk tot ’n eie produksie, wat beoordeel word. Die US Departement Drama bied werkswinkels aan die gekeurde groepe en stukke word herskryf. Die wenstukke word tydens die WOW-Dag opgevoer vir die ander leerders. Ons hoop om dit in die toekoms na skole te neem.

E-pos uitwisseling

Hierdie loodsprojek het leerders van twee Wes-Kaapse skole elektronies in aanraking gebring met leeftydgenote in ’n Nederlandse skool – ’n  eietydse weergawe van ’n penvriendeprojek.

Mardi Gras

Ten einde ’n ware kulturele ervaring aan die WOW-leerders, maar ook aan die breë gemeenskap te verskaf, is in 2007 vir die eerste keer ’n gratis verhoog op die Braak aangebied, met bekende akteurs en sangers, ’n orkes optog, stalletjies, ’n pretpark en ’n suksesvolle skole idolskompetisie. Dit het in 2008 sowat 4 500 mense getrek.

Leesfees-projek

Leeskringe en leeshoekies vir hoërskoolleerders word gevestig ter verbetering van leerders se ernstige leesprobleme en gebrekkige motivering om te lees. Opvoeders word ook gelei in strategieë en metodes om lees te bevorder en om die 100 boeke wat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement per klaskamer beskikbaar stel na behore te benut. Die Leesfees-projek is in 2007 met groot sukses begin in Pniel, in samewerking met twee B. Psig-studente, toe 1028 leerders bereik is tydens die weeklange fees. Die skoolbiblioteek is ook opgegradeer met heelwat boekskenkings. Hierdie projek het groot uitbreidingsmoontlikhede.
Nuwe projekte – indien befondsing gevind kan word:

  • Die aanstelling van ’n deeltydse Xhosa-moedertaalspreker om mev. Van Kerwel te help met die ondersteuning van Afrikaans as vak in Xhosa-skole.
  • Die neem van die wenstuk van die WOW-dramaprojek na skole.
  • Uitbreiding van die hulp wat op Saterdae aan leerders gegee word deur aandag aan Afrikaans, beide as vak én as medium.