Woordfees: Omskrywing

Om van letterkunde en woordkuns lekkerkunde te maak en van ons skrywers en kunstenaars sterre, was van die begin af die Woordfees se mikpunt. Ons hou sedert 2000 by ons missie om Afrikaans as taal tussen tale te bevorder:

Die Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch is ’n viering van die woord binne sy konteks en in soveel vorme moontlik – soos poësie, prosa, debat, verskillende vorme van drama en musiek. Die fokus val op Afrikaans, maar ander tale waarmee geografiese of ander verwantskappe bestaan (onder meer van Afrika en die Nederlande) is ook welkom. Die fees is gerig op studente, skoliere en die publiek en wil so inklusief moontlik wees.

Nie net die woordkuns nie, maar die meeste kunsvorme vorm deel van ons feesprogram. Ons hou dus jaarliks fees dat die biesies bewe! In die eerste tien jaar het die Woordfees van 1000 feesbesoeke toegeneem tot 37 500 in 2009.

Sedert 2003 bemagtig die Woordfees benadeelde leerders met die suksesvolle Woorde Open Wêrelde-projek, wat lees, die letterkunde en die kunste onder leerders bevorder met ’n groot aantal projekte. Dit staan onder die bekwame leiding van Fiona van Kerwel, met Shireen Krotz as assistent.

Regdeur die jaar besoek bekende skrywers skole en tydens die Woordfees word ‘n WOW-dag gehou waarby sowat 700 leerders betrokke is. Dan word onderwysers se lewens makliker gemaak met werkswinkels oor onderwerpe wat uitdagings in die klaskamer aanspreek. Kompetisies en leesfeeste verskaf deurlopend pret en plesier. Ongeveer 12,000 leerders word jaarliks bereik. Die talentvolstes word bygestaan om beurse te bekom vir verdere studie.

Tydens die Woordfees stroom mense van Stellenbosch en omliggende plekke na die WOW-projek se Mardi Gras op die Braak, terwyl die Van der Stel Sportterrein kóók met ‘n enorme karnaval wat daar aangebied word.

Die US Woordfees is om baie redes ‘n unieke fees in Suid-Afrika: Dit het eerstens ‘n heeltemal ander struktuur en finansiële stelsel as die ander Media 24-feeste weens die universiteitsopset. Tweedens beny ander feeste die US Woordfees vir die gesofistikeerde program wat met vrymoedigheid aangebied kan word weens die kultureel-ontwikkelde publiek wat die Woordfees trek. Die fees is gelukkig om ‘n groeiende groep lojale en waarderende feesgangers te trek, wat jaarliks van heinde en verre (selfs uit die Nederlande en van oral in Suid-Afrika) kom vir die fees.

Dit is juis die konnotasie met vreugde en die vryblywendheid wat feeste van die vroegste tye vir feesgangers sinoniem maak met ontvlugting en genot. Dit maak van feeste kragtige positiewe oorredingsinstrumente wat uiteindelik waarskynlik meer mense bereik as stryde en klagtes!