Fees van woorde fees voorwaar ‘n jol

Ainsley Moos

Die pas afgelope tweede Afrikaanse Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch en Insig op Stellenbosch was voorwaar een groot jol.

Toe die verrigtinge op Vrydagaand, 30 Maart begin met die kykNET Woordrock, met mense soos Koos Kombuis, Prophet, Duusman en Spinnekop, was daar geen twyfel nie: Hier kom ‘n ding.

Dié sewe uur lange optrede het ook performance poetse soos Izak de Vries, Tom Dreyer en Herman Wasserman ingesluit wat dié kunsvorm die eerste keer in Afrikaans aangebied het. Die bydrae van veral Sander Vos het verras.

By menige staan Vos as die Nederlandse Valiant Swart bekend en sy musiek het veral by Oppikoppi en Aardklop beïndruk.

Later die aand het onderhoude met Jaco Botha en Tom Dreyer deur Abraham de Vries en ‘n paar Maties hul idees, temas en inspirasies vir skryf laat blyk. So reg in veral die jonger garde se kraal: Niks hoogs akademies of vervelig nie daarvoor het dié twee nie tyd nie.

Die Saterdag het nog meer moontlikhede gebied. Van vroeg was die stalletjies oop en met die wye keuse op die program kon ‘n mens kies presies waar jy wil wees en daar wás ‘n ietsie vir almal.

Philip de Vos het feesgangers touwys gemaak in die kuns van limerieke skryf.

Dit het later tyd geword vir bekende digters en storievertellers om mekaar figuurlik die stryd aan te sê in Bekgeveg en Storiestew dat die stof so staan.

Storiestew, ‘n geweldig snaakse en spannende storiewedstryd, is vanjaar as nuwe konsep aangebied.

Storievertellers soos Susan Arendts, Florence Ann Filton en ander met voorbereide verhale het die Opgewarmde Stew aangebied.

Toe het dit tyd geword vir die Varknekke en die Beesboude om mekaar te pak. Dit het George Weideman, Basil Kivedo en Ronnie Belcher, teen Peter Snyders, Dianne Ferus en Willem Fransman, ingesluit. Eben Cruywagen was die lepel wat die bredie geroer het.

Elke verteller het om die beurt kans gekry om met ‘n storie toe te tree. Die gehoor het die onderwerpe gegee en hul toejuiging het die punte bepaal. Met die laaste ronde was dit tyd vir “kluitjies bak”, waar drie vertellers om die beurt stukke aan die storie moes las.

Teen die einde van die aand kon niemand langer wag nie: Brasse vannie Kaap gaan die verhoog betree. Toe dit uiteindelik gebeur, wou geen siel meer in die H.B. Thom-Teater sit nie. Mr. Fat het dit eenvoudig nie toegelaat nie, want almal hou mos van “Potjiekos’”.

Ja, jong mense, aan volgende jaar se Woordfees sal daar beslis geen keer wees nie. Net jammer dit is nog so ver weg!