Wenner van die kortverhaal-kompetisie

Die Woordfees vier vanjaar sy 21ste verjaardag en die feestema is “Aanhou beweeg en geraas maak”. Dié tema is geneem uit die Jan Rabie-kortverhaal “Ek het jou gemaak” uit die bundel 21. Vanjaar se Woordfeesbundel, met die titel Aanhou beweeg en geraas maak, is op 6 Maart by die Toyota US Woordfees in Stellenbosch bekend gestel en by dié gesellige geleentheid in die Hofmeyrsaal is die wenner van die kompetisie aangekondig.

Vir vanjaar se bundel, die vyfde in die reeks, is 267 inskrywings ontvang. Du Toitskloof Wyne het ’n vierde maal die prysgeld van R30 000 geborg, wat oorhandig is aan Marie Toerien vir haar wenverhaal “Bitter daisies”. Toerien, ’n broerskind van die ontslape digter Barend Toerien, was oorstelp oor die bekroning van haar verhaal wat in Namakwaland en die Hantam afspeel.

Die ander 24 skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem is, ontvang elkeen R5 000 van Du Toitskloof en die US Woordfees. 

Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert die begin van die projek sameroeper van die beoordelaarspaneel is, sê die nuwe bundel weerspieël die tydsgees ontstellend akkuraat deurdat feitlik ’n kwart van die verhale handel oor die mishandeling van vroue. “Die merkwaardige is egter dat daar in hierdie verhale, anders as in die regte lewe, ook ’n deeglike afrekening met die oortreders is, wat die transformerende krag van fiksie opnuut bevestig.” Haar medesamestellers was Valda Jansen en Madri Victor. 

Gerda Taljaard is die enigste skrywer wat ’n vyfde agtereenvolgende keer die bundel gehaal het. Die volgende skrywers behaal met vanjaar se bundel ’n driekuns: Emma Bekker, Anri Botha, Hendie Grobbelaar en Santie van der Merwe. 

Die afgelope drie jaar het kykNET geld gegee om die verhaal van die filmpryswenner in ’n kortfilm te omskep wat tydens die Silwerskermfees in Augustus vrygestel is. Vanjaar kon die paneel nie op een wenner besluit nie en is vyf kortverhale met filmpotensiaal geïdentifiseer. Karen Meiring het by die toekenningsgeleentheid Vrydagaand gesê ’n aankondiging sal op 15 April gemaak word oor hoe hierdie prys vanjaar toegeken sal word.

Aanhou beweeg en geraas maak is gedurende die fees van 6 tot 15 Maart in die ATKV-Boeke-Oase op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat te koop. Van die vorige uitgawes is ook hier te koop.

Facebook
Twitter
LinkedIn