Feeste het onlosmaaklik deel geword van die eg Suid-Afrikaanse kultuurbelewenis. Die US Woordfees is gevestig as een van dié feeste wat prominente waarde tot die Afrikaanse taal en kultuur toevoeg.
Die ATKV glo dat taal en kultuur belangrike instrumente is om Suid-Afrikaners mekaar beter te laat verstaan. Daarom moet Afrikaanse taal en kultuur op ʼn inklusiewe en volhoubare wyse bedryf word, met die doel om waarde vir die Suid-Afrikaanse samelewing te skep. Die kundigheid en kreatiwiteit wat in taal en kultuur, en spesifiek in Afrikaans opgesluit is, moet voortdurend ontsluit en benut word.
Die ATKV se doelwitte is veral gefokus op taal, die kunste, gemeenskappe en onderwys. Die US Woordfees is ʼn ideale vennoot om hierdie doelwitte aan te spreek. Die ATKV se voortgesette betrokkenheid by die US Woordfees illustreer onder andere die waarde van samewerking en wat daarmee bereik kan word.
Sterkte en sukses met die 2013 US Woordfees!
Hoeveel kunstefeeste – of dan feeste wat onder die vaandel van kuns aangebied word – is daar deesdae in Suid-Afrika? ’n Stuk of vyftien of twintig? In baie gevalle bied hierdie feeste basies dieselfde dinge aan ’n besoeker (en daar is nie fout te vind daarmee nie).
Die US Woordfees het egter binne ’n kort tydjie ’n unieke karakter vir homself gevestig. Dit is nie ’n kampeer-en-eet-fees nie, maar eerder ’n feesweek vir kunsliefhebbers – en veral vir liefhebbers van die woord.
Die Woordfees het ’n heerlike rustigheid aan hom, maar sonder om genot in te boet. Hier kan jy van die beste dinge beleef wat die Suid-Afrikaanse kunstoneel bied, maar sonder daardie koorsagtigheid wat soms met feeste van hierdie kaliber gepaard gaan. Hier skreeu die opvoerings en vertonings nie teen mekaar nie, hulle meld hulself as’t ware een-een aan.
Kortom, die Woordfees is ’n fees van gehalte. Die Burger is trots om weer betrokke te wees by hierdie unieke geleentheid.
Die Dagbreek Trust is die afgelope vier jaar ʼn trotse ondersteuner van die Woordfees se WOW inisiatief en elke jaar verras Fiona van Kerwel en haar span ons met die wyse waarop hulle met die hulpbronne tot hulle beskikking WOW deel maak van die groter Woordfees. WOW is een van die projekte waarby ons betrokke is wat daarin slaag om die ganse gemeenskap te betrek en te inspireer. Ons is daarom bly om te sien dat WOW se werksaamhede nou verby die grense van die Wes-Kaap strek, tot in die noorde in Gauteng met ʼn Spelfees wat groot beloftes inhou. Dit is die soort energie wat ons as donateur in ʼn inisiatief soek en wat ons elke jaar oortuig om die Universiteit van Stellenbosch se Woordfees te ondersteun. Professor Dorothea van Zyl en haar personeel sorg dat die kwaliteit van hierdie fees elke jaar nuwe hoogtes bereik, soos vanjaar toepaslik deur die tema ‘hemels’ aangedui.
Dit is vir Sanlam ʼn voorreg om vanjaar weer as donateur vir die 13de Woordfees te kan optree.
Die Woordfees-tema vanjaar is ‘Hemels’ en daarom wil mens regtig sien dat feesgangers hulself geniet. En dat die hemelsbreë feesprogram onder praters van die taal weer vir ʼn hemelse ervaring sal sorg.
Verlede jaar die fees in totaal meer as 91 000 voete per item per venue gehad – ʼn enorme styging as mens dit met die 1 000 feesbesoekers in die jaar 2000 vergelyk. En te oordeel aan die sukses wat die Woordfees die afgelope 13 jaar behaal het, vertrou mens dat die paar dae in Maart elke jaar ʼn stukkie hemel op aarde is.
Sanlam ondersteun verskeie projekte en dit bly vir ons ʼn aangename ervaring om met die US Woordfees geassosieer te word.
Mag u vanjaar – soos al die vorige jare – die Woordfees terdeë geniet.
Elke jaar, nie lank nadat die ou eikebome in Victoriastraat in die lente begin bot nie, herhaal ʼn patroon hom op Stellenbosch. Met die eindeksamen om die draai, voel menige studente in twee geskeur – bly die einde is in sig, maar spyt hulle gaan hul geliefde Maties moet verlaat.
‘Gʼn wonder soveel van ons doen sommer nog ʼn graad nie. Wie wil nou hier weggaan?’ sê een onlangs op Twitter.
Inderdaad! En juis daarom doen ons ons bes om die Universiteitsdeure so wyd moontlik oop te gooi sodat die Matieland-ervaring soveel moontlik Suid-Afrikaners beskore kan wees – in al hul diversiteit.
Hierdie dorp, ʼn stukkie paradys vir vele, is nie vir almal ʼn land van melk en heuning nie. Daarom doen ons navorsers moeite om na oplossings te soek vir maatskaplike uitdagings.
Die US Woordfees – en sy WOW-program (Woorde Open Wêrelde) – help ons om ons strewe na uitnemendheid en diensbaarheid gestand te doen. Aan al die feesgangers – geniet elke oomblik!