WOW-Fees - 2008!

Skrywersbesoeke GR.12
 
Skrywers word veral op grond van die Gr.12-voorgeskrewe tekste benader om tydens skoolbesoeke van ongeveer 60 – 90 minute leerders in aanraking te bring met die lewende skeppers van die letterkunde. Die projek sluit sinvol aan by die leerplan en bied 'n meerwaarde vir beide die leerders én onderwysers. Tydens die besoek lees die skrywer voor uit sy werk en vertel meer omtrent sy skrywersloopbaan en hoe 'n mens die kreatiewe skryfproses aanpak. Daarna kry leerders die geleentheid om vrae aan die skrywer te rig. Dié projek word vanaf 2003 met groot sukses oor die hele Wes-Kaap aangebied. Tot op hede is daar reeds 4457 leerders van 30 verskillende skole bereik en 'n verdere 18 skole moet nog besoek word. Van die skrywers wat die besoeke meemaak se kortverhale verskyn in Douspoor of Storiepalet, of is digters wat opgeneem is in die bundel, Versreise.

Gr.12 WOW-Dag

Die Woordfees is op Saterdag 10 Maart 2007 deur 681 leerders van 37 skole vergesel van 78 onderwysers en 13 finale-jaar Afrikaans-onderwysstudente van UWK besoek. Vervoertoelae en 'n gratis ontbyt is voorsien. Die skole was vooraf in kennis gestel van die dagprogram. Leerders was verwelkom deur die Woordfeesdirekteur, Prof. Dorothea van Zyl asook deur mnr. Jerome Slamat, Direkteur van Gemeenskapsinteraksie. Die plenêre sessies is vir almal aangebied in samewerking met die Sentrum vir Voornemende Studente wat ook die motiveringswerkswinkel hanteer het.

Die leerders is verdeel in twee groepe van ongeveer 300 elk wat die volgende programme kon bywoon:
 
Limerieke-werkswinkels deur Phillip de Vos en Woordeboek-werkswinkels deur Rufus Gouws, 'n toneelopvoering in die Sanlamsaal deur die pryswenners van die eerste WOW-drama-kompetisie by name Proteus Sekondêr en New Orleans Sekondêr, kampustoere deur rolmodelle en vanjaar vir die eerste keer, het leerders terwyl hulle 'n heerlike gratis middagete geniet het, die Woordfees se eerste gratis Mardi Gras op Die Braak bygewoon. Die 78 opvoeders en 13 gaste van UWK het werkswinkels in E-lees en Kreatiewe Skryf deur Keith de Wet bygewoon.

Beurse

Vanaf 2006 is twee US studiebeurse spesifiek aan die WOW-projek gekoppel, in samewerking met die US Sentrum vir Voornemende Studente. Hierdie beurse beloop gesamentlik R35 000 en is toegeken aan voornemende studente aan die US Fakulteit Lettere en Wysbegeerte.

Colin Hendricks van Weltevrede Sekondêr (Wellington) en Merielle October van Esselen Park Sekondêr (Worcester) is die twee WOW-beurshouers vir 2006. Eersgenoemde het pas uitstekend in Afrikaans en Nederlands 178 presteer en vorder na sy tweede studiejaar, maar Merielle October herhaal haar graad twaalf ten einde haar prestasies te verbeter. Colin se Afrikaanse handboeke is ook aan hom besorg en verder werk hy ook as assistent by die Woordfeeskantoor, hy was ook die mede-koördineerder vir die skoolkoerant-projek dag. Vir 2007 is Merielle October van Breërivier Sekondêr en Sacha le Roux van Aloe Sekondêr as Woordfees-Beurshouers aangewys.

Skoolkoerant

Nog 'n eerste vir die Woorde Open Wêrelde-projek was die skoolkoerant-projek in samewerking met die Departement van Joernalistiek, onder die bekwame leiding van me. Jacolette Kloppers. Vroeg reeds het die 63 wakker leerders en hul 6 onderwysers van vyf verskillende skole met hul besige program begin. Die leerders het die hele tyd interaktief met die aanbieder en mekaar verkeer en dit was vir hulle absoluut fantasties. Volgens mnr. Gert Williams, koördineerder van Lückhoff Sekondêr het hy reeds teen etenstyd geweet die aanbieders ken hul storie en was hy opgewonde om te weet wat die tweede sessie sou oplewer.

Oor die opdrag tydens die etensuur om die Feesterrein te gaan verken en 'n kort storie daaromtrent te skryf was die leerders heeltemal in vervoering. Omtrent almal wou met Theodore Jantjies of Gift Gwe 'n onderhoud voer, maar die twee gaste van die Woordfees Mardi Gras was omtrent die hele tyd besig.

Die skep van hul eie WOW-Feesblad was baie interessant vir die deelnemers en Jacolette het deur middel van 'n kort kompetisie gou-gou die beste uit die bestes gehaal. Die kompetisie het 'n eerste en tweede plek opgelewer en die pryswenners het elk 'n klein prys vir hul poging ontvang.

Kinderfees

Die produksies wat tydens die Kinderfees aangebied was, was só 'n belewenis vir dié klein feesgangers en die wonderlike interaksie tussen die karakters en die gehoor was iets wat vele kinderverstandjie vir jare sal bybly. Om te sien hoe die storieboek-karakters lewendig word, prikkel die klein hartjies so en hou hulle vasgevang deur die snikhete warmte. Boonop het hulle nog wakker en rustig ook geluister na dit wat voor hulle afspeel. Die produksies wat vanjaar aangebied was, was PINOCCHIO met die regie gedoen deur Ilse Schmidt, SNEEUWATJIE - 'N PANTOMIME met Gaerin Hauptfleisch wat verantwoordelik was vir die teks en regie en ook PINKIE EN DE BRUIN ('n Childsplay-produksie) met teks en regie deur Stephanie Hough.

Vanaf 2006 het die Kinderfees ook hul eie boekbekendstelling vir die jong feesgangers. Hierdie jaar was dit die fantastiese kinderboek, uTSHEPO MDE: TALL ENOUGH , geskryf deur Mhlobo Jadezweni met illustrasies deur Hannah Morris en aangebied deur Electric Book Works. Hier het die leerders die geleentheid gekry om die skrywer te ontmoet en ook om aan hom vrae te stel.

Die kinderfees het baie jong Woordfeesgangers gelok en die saal was bykans te klein vir al die mense.Die produksies is in die algemeen uitstekend bygewoon.

Verf, vers en verhoogkompetisie

Vir die eerste keer was die Verf- Vers- en Verhoogkompetisie se uitstalling en prysfunksie, met toneelstukkies deur verskillende laerskole, deel van die Woordfees se Kinderfees. Boek- en geldpryse is uitgedeel aan 'n groot aantal laerskoolleerders vir die kleurryke plakkate met (dikwels eie, oorspronklike) gedigte wat hulle geskep het. Hierdie kompetisie het groot reaksie onder die skole uitgelok en inskrywings is van oor die hele Wes-Kaap ontvang.

Tydens die gala-geleentheid het die leerders van Bruckner de Villiers Primêr, Graafwater Primêr en Riverlands Primêr die feesgangers vermaak met hul pragtige drama-, dig- en danstalent. Die inskrywings het met meer as die helfte verdubbel van verlede jaar en 101 pryswenners was gekies vanuit die meer as 400 inskrywings. Hierdie leerders het kontant en- boekpryse ontvang asook sertifikate vir hul deelname.

Nie net was die plakkate by hierdie spoggeleentheid uitgestal nie, maar sal ook op die Woordfees-webtuiste en tydens volgende jaar se fees te sien wees. Elke deelnemer het ook 'n versnapperingspakkie ontvang en met hope afwagting uitgesien na die volgende kompetisie.

Wat hierdie dag verder so besonders gemaak het, was die bywoning van die meer as 60 leerders en hul ouers vanuit Riverlands, en hul skoolhoof, mnr. Saunders. Die leerders is deel van die gemeenskap wat verlede jaar tragies geraak was met die verlies van familielede en vriende in die trein en trok ongeluk naby Eersterivier, en dit verblydend om te sien hoe die gesiggies weer straal van pure vreugde en opgewondenheid. Ook die skoolhoof, mnr. Syster, met sy span kleintjies vanuit Graafwater het die tyd baie geniet. Hierdie leerders wat byna nooit die geleentheid kry om funksies van die aard by te woon nie, was absoluut oorstelp van vreugde met die toekennings wat hulle ontvang het en ook die bydra wat hulle op die verhoog kan lewer.

 'n Pa van Vredendal het net voordat hy in sy rooi dubbelkajuit bakkie klim, gegroet en die Woordfees bedank vir hul puik organisasie en gesê as hy volgende jaar weer genooi word, kom hy weer, agterin het 'n pragtige rooikopseuntjie gestraal met sy pryse. Vir vele van hierdie outjies en ook die wat plaaslik woon, is die jaarlikse besoek aan die Woordfees 'n hoogtepunt, iets waarna hulle vreeslik uitsien, en wat so lekker is volgens mnr. Syster, is dat hulle die pragtige boeke het om saam te neem en hul verder te verryk.

Mardi gras

Die Woordfees het ook vanjaar vir die eerste keer 'n gratis verhoog op die Braak, met bekende akteurs en sangers en vele pret. Groot opgewondenheid is by groot én klein veroorsaak deur verrassingsbesoeke deur Zander van 7de Laan. Hy het later opgetree saam met Oscar Petersen, Natalia da Rocha, idol Gift Gwe en 'n verskeidenheid ander kunstenaars by die Mardi Gras. Daar was ook 'n orkesoptog, stalletjies en 'n pretpark by hierdie eerste groot gratis gemeenskapsfees, ondersteun deur die Son. 'n Skole idolskompetisie was 'n groot sukses. WOW-leerders woon dit in die middag by.

RSG en die WOW

Renette van Rooy, bekende RSG-aanbieder het ook vanjaar die WOW-Leerders verras met haar besoek aan al die WOW-bedrywighede. Sy het 'n onderhoud met 'n paar leerders gevoer wat betrokke was by die Skoolkoerant-projek asook die graad 12-leerders wat die US besoek het. Hierdie onderhoude was ook op RSG uitgesaai en vir hierdie leerders was dit die eerste kaar dat hulle na hulself op 'n radio kon luister.

Dramaprojek

Leerders word genooi om 'n teks uit hul voorgeskrewe reeks te kies, te verwerk tot hul eie produksie en in te stuur vir beoordeling. Die finale groepe ondergaan intensiewe werkswinkels in samewerking met die US Departement Drama en tydens 'n Gala-dag word die wenners gekies. Terselfdertyd sal leerders hul eie verwerkte produksies aan ander skole aanbied en prysgeld kan losslaan. Met hierdie bemagtigingsprojek word leerders op 'n uiters professionele manier bewus gemaak van die wêreld voor, op en agter die verhoog!

Die eerste pryswenners van die WOW-Drama in 2006 was New Orleans Sekondêr (Paarl) met Proteus Sekondêr (Atlantis) en Noorder-Paarl Hoër (Paarl) onderskeidelik tweede en derde. Hierdie drama's was ook tydens die WOW-Dag vir al die ander leerders wat die US besoek het, opgevoer. Hierdie projek was ondersteun deur die ATKV.

E-Pos projek : Uitwisseling met skoolgroepe van die Nederlande

Hierdie projek-aksie het die uitruil van e-pos adresse om rekenaar-interaksie tussen leerders tot stand te bring, ten doel. Dit gee leerders die kans, in aansluiting by ons naam – die Woorde Open Wêrelde-projek – om hul ervaringswêrelde te vergroot deur verskillende kulture te leer ken, om vriendskappe te smee en dalk eendag 'n rol te speel in die verdere uitbou van hierdie tipe projekte deurdat hul hierdie ervaring as lewens veranderd sal onthou. Die projek vorm deel van 'n groter inisiatief om Nederlands bekend te stel in skole en kan moontlik in die toekoms lei tot 'n fisiese uitwisseling van leerders (en onderwysers) tussen WOW-skole en skole in die Nederlande. Ons ondersoek tans die moontlikheid van Nederlandse befondsing hiervoor.

Die leerders vind definitief baat by hierdie eietydse weergawe van 'n penvriendeprojek – en die meer as sewentig boodskappe wat reeds vanuit die Nederlande na RSA gestuur is, is druk besig om groot geselsies te veroorsaak. Leerders van Atlantis (onder leiding van me. M.Banda) en Klein Nederburg (onder leiding van me. A.Smith) Sekondêre skole is reeds besig met uitwisseling van boodskappies.

Leeskringe Gr.8 – 11

Gesien in die lig van die voortdurende leesprobleme en gebrekkige motivering om te lees waarmee die land tans worstel, is daar definitief 'n tekort aan die stimulering van leerders se leeslus, daar is dus vele onontginde potensiaal wat verlore gaan. Dié projek het ten doel om leeskringe vir Gr 8 – 11 leerders aan te bied. Omdat lees soveel onbekende wêrelde vir leerders open en so baie leerders nie die belangrikheid van lees besef nie, het dit noodsaaklik geword dat lees vir leerders as iets aangenaams aangebied moet word.

 Boeke is vir baie leerders 'n luukse en word baiekeer net in skole gebruik, daarom is dit noodsaaklik om boeke meer toeganklik vir leerders te maak. Baie belangriker is die moontlikheid dat lees en boeke nou vir soveel leerders wat nooit só 'n geleentheid soos 'n boek- /skrywerspraatjie sal kan meemaak nie, ook binne hul ervaringswêreld kan wees. Hierdie opvoedkundige projek is van onskatbare waarde vir leerders, opvoeders, skole, die breë gemeenskap en ook die WKOD. Met so 'n projek waar daar intensiewe bystand en ondersteuning gegee word aan die ontginning van leerders se leeslus, is leerders dus baie meer gemotiveerd om te lees en dalk ook toekomstige kopers van boeke te word.

Van die doelstellings van die projek is :

  • Om leerders aan die wonderwêreld van boeke bloot te stel
  • Om inligting omtrent Afrikaanse skrywers en boeke te verskaf
  • Om inligting omtrent die nuutste boeke in Afrikaans te verskaf
  • Om advies en ondersteuning ten opsigte van die saamstel van jaarprogramme/leeslyste vir Leeskringe te verskaf
  • Om lesers aan te moedig om ook self boeke te koop
  • Om hulp te verleen met die tot stand bring van 'n hulpverlenende leeshoekie vir leerders en die opknapping van die skoolbiblioteke en  bronnesentrums.

Opsommend :

Die pragtige resultate wat bereik word met hierdie projek-aksies maak die naam daarvan inderdaad waar: vir 'n groot aantal leerders maak woorde letterlik nuwe wêrelde oop.

Die WOW-projek het oneindig potensiaal om op 'n langtermynbasis uit te brei. Die volgende projekte word verder in die vooruitsig gestel:

  • Hulp met die tot stand bring van 'n hulpverlenende leeshoekie vir leerders. Hierdie inisiatief sluit direk aan by die WKOD se leesbeleids vereistes. Interessante leesmetodes, idees rondom die instandhouding en aanvulling van die skoolbiblioteek, asook voorstelle rondom die stigting van leeskringe binne skoolopset sal deel uitmaak van hierdie projek.
  • Aanvulling van skool- en klasbiblioteke, in samewerking met ander leeskringe en bestaande lees-aksies by verskillende skole. Dié doelwit sluit aan by die WKOD-leesprojek om elke klas van 100 boeke te voorsien.