Woordfees was brugbouer
Woordfees was brugbouer
DIE pas afgelope Woordfees op Stellenbosch was baie meer as net om oor die woord fees te vier. Die skatkis van die Afrikaanse woordkuns by wyse van voordrag, voorlesings, stories, sketse, teater, sang en veel meer is op luisterryke wyse ontsluit. Ek begin al meer besef dat Afrikaans 'n onuitputlike goudmyn is.
Die kragpunt van die Woordfees lê egter vir my in die volgende: Dit is 'n brugbouer tussen mense, 'n katalisator vir versoening, aanduider van gemeenskaplikheid; dit het nie 'n saak met kleur, kultuur en klas nie, dit is nie net 'n gepraat nie, dit is die doen daarvan; dit is motiverend en inspireer my om voort te gaan met die dinge wat my na aan die hart lê. Dit is lekker kuier, en lieflike, deernisvolle, nederige en onopgesmukte mense ontmoet.
Dit is 'n wonderlike leerervaring, wat 'n mens die geleentheid bied om met oorgawe uit te reik na ander.
My opregte dank aan dr. Dorothea van Zyl en haar professionele en uiters bekwame span organiseerders wat aan my die geleentheid gebied het om deel te wees van hierdie wonderlike ervaring. Aan dr. Willa Boezak, my gewaardeerde vriend wat sy geleentheid om by die fees op te tree opgeoffer het om aan my die geleentheid te bied. Dankie vir jou onbaatsugtige gebaar.
Ek was ná afloop van die fees verryk en hoopvol ten spyte van ons land se probleme.
Gegee dit alles, is die een groot jammerte die algehele gebrek aan dekking van jong opkomende kunstenaars asook sekere gevestigde kunstenaars, veral dié uit die voorheen benadeelde gemeenskappe.
Ek glo stellig dat, sou diegene groter publisiteit kry, dit as 'n aansporing sal dien om op hul reeds bestaande prestasie te verbeter en die Woordfees van aanstaande jaar selfs 'n groter sukses te maak.
Die Afrikaanse kuns- en kultuurlui moet liefs nie die fout begaan om die werke van dié mense veral in berigte so te negeer en af te skeep nie. Beskou hierdie as bloot opbouende kritiek.
BASIL KIVEDO
Worcester

