Woordfees
Woordfees
DIE agtste Woordfees op Stellenbosch het weer die rykheid van taal in Suid-Afrika gedemonstreer en was 'n onverbloemde sukses.
Daar was 107 produksies op die fees wat vanjaar deur die Universiteit Stellenbosch en Die Burger aangebied is en wat gewissel het van die populêre tot die elitistiese.
Mense wat beswaard is oor die oorlewing van Afrikaans, sou daar kon sien hoe derduisende mense toesak op die Eikestad om die taal nie as slagoffer van diskriminasie uitgebeeld te sien nie, maar as een wat inheems en uitheems presteer.
Boonop is Afrikaans in al sy ryk skakerings gehoor, gesien en geproe. Die tema, Landskappe van die Liefde, is met 'n Afrikaans besing wat ver verwyderd was van die ou stywe Afrikaanse borstrok, maar nader aan sy volle glorie in die klingeling van die enkelring én die viool.
Wat die fees anders as die magdom ander maak, is dat skrywers in die middelpunt gestel word, maar dat die taal ook deur drama en musiekuitvoerings tot blom kom.
Diegene wat sê die glas is halfleeg sou kon sê nuwe, vreemde stemme se optredes is nie goed bygewoon nie, maar dit is te wagte. Die erkenning wat ouer, bekende skrywers kry, is immers oor jare verdien en nie onverwags nie.
Bowenal is die wisselwerking met buitelandse kunstenaars 'n vrugbare verhouding wat aan albei kante die kultuurlewe verryk.
Die Woordfees het weer gewys dat Afrikaans blom ondanks die doemprofete se praatjies.
Solank mense dit geniet en die taal haarself telkens weer ontdek by die Woordfees, is dit onnodig om in linies te gaan lê om mekaar oor die A-opsie of die T-opsie te verguis. Die taal kan ook net geniet word.

