Vol program bewys dit is nou onontbeerlik
Vol program bewys dit is nou onontbeerlik
Op die Woordfeesprogram van 164 nommers vanjaar is baie uit af te lees, te veel om beduidend hier te noem. Wat voorop staan is dat die fees met sy al hoe groter stroom van deelnemers en aanbod uit Suid-Afrika én van die Lae Lande die soort kulturele valuta bied wat met geen valsmuntery ooit naastenby nagedoen kan word nie. Al om hierdie rede verdien die fees jaarliks die toestroming en vier vanjaar sy tiende jaar.
Vanjaar was 'n besonderse jaar vir die skrywersprofiele-aanbiedings, met hulde wat gebring is aan Hennie Aucamp en PG du Plessis, albei vanjaar 75, en Chris Barnard, wat vanjaar 70 word. In 'n gesprek Vrydag vertel Dana Snyman, 'n storiesmous wat sy ware van oraloor gaan haal, dat sy landkaart ál kleiner word (soos wat sy stories uitbrei).
Nanette van Rooyen het vertel hoe die verhale en mense van haar jeug en liefde vir die Karoo rente getrek het en later uitgegroei het in haar stories. Willemien Brümmer het verduidelik hoedat haar verhalewêreld nou verweef is met haar familie se maniere van vertel en dat die familiemitologie 'n teelaarde vir bylieg is.
Ingrid Winterbach het een van die weinige kere gepraat oor die korrespondensie tussen haar en Etienne Leroux, wat op sy 18-44 uitgeloop het en gesê hoe verder sy in haar skrywerskap vorder, hoe meer mis sy hom daarin. In Du Plessis se gesprek met Hans du Plessis oor laasgenoemde se roman Verbrande Paradys lig die skrywer die titel toe dat dit gelees moet word ook as "die verbrande ("vervlakste") paradys wat die dinge verander het", en tekenend daarvan dat "ons lewe soos ons dink ons die dood verstaan".
Ook jong digterstemme het van hulle laat hoor. Ronelda Kamfer het opnuut getref met verse uit Noudat Slapende Honde; Loftus Marais het werk uit Staan in die Algemeen Nader aan Vensters gelees, asook 'n nuwe werk. Danie Marais se tweede bundel gedigte is op die rakke. Hoe Sekel die Maan was die naam ook van 'n multimediavertoning waarin van sy werk puik getoonset is deur Sigrun Paschke, met sang deur Beverley Rinkwest, Schalk Joubert op baskitaar en stemmige animasie deur Diek Grobler. Marais is aan die vooraand van uitstekende podiumpoësie-produksies.
Die skrywersgala het vanjaar met die tema "lag-lag" nie die mas opgekom nie, die tema het ook nie juis reg laat geskied aan die werk van die skrywers nie. Chris Barnard se verkneukelende vertelling uit Oulap se Blou en die Vlaming, Eva Cox se vermaaklike verhaal oor 'n "kofferhaasje" ten spyt. Gert Vlok Nel se bydrae het werktuiglik oorgekom.
Waar was Juanita Swanepoel se hand in dié aanbieding?
Antjie Krog, vanjaar skrywer van die Gedichtendag-bundel in Nederland, het by die bekendstelling van 'n keur uit eie werk, Dig ter Wordende, van haar "jongste tot verslete" gedigte treffend voorgelees, van hulle die eerste keer hardop in die openbaar. Andries Visagie het literêre vertaling interessant bespreek met Winterbach, Pamela Jooste en die uitgewers Alida Potgieter van NB en Frederik de Jager van Umuzi. De Jager het vertel 'n Afrikaanse vertaling van JM Coetzee se Disgrace word vanjaar uitgereik.
Henning Pieterse het in 'n bespreking oor of Afrikaans die Akademie nodig het, gewys op akademies in minderheidstale se funksie as kurators (gesien teen die agtergrond van die verskraling van Afrikaans se hoër funksies). Die peil van die fees vanjaar bevestig wat dit in die afgelope jare geword het – onontbeerlik vir mense wat oor Afrikaanse boeke as huisvriende met mekaar wil gesels.
Die feesdirekteur, Dorothea van Zyl, en haar span verdien lof en ook die rektor se tydige aankondiging dat die Universiteit Stellenbosch voortaan die fees gaan vra wat die US kan doen om sukses te bly verseker.
Lees Boekeblok by www.dieburger.com vir verdere bydraes oor die fees.

