Stellenbosch se Woordfees laat `kaalvoettaal' dans
Stellenbosch se Woordfees laat `kaalvoettaal' dans
ERNS GRUNDLING
"HET is te groot voor woorde, het gevoel is te groot." So sing die bekende Nederlandse sanger Stef Bos.
Bogenoemde aanhaling is veral van toepassing op die Universiteit van Stellenbosch se pas afgelope Woordfees. Die fees het vir 'n ongekende samekoms van literêre figure gesorg wat Afrikaans se kleurryke verskeidenheid weer bevestig het.
Die voorportaal van die H.B. Thomteater was Vrydagaand voor die kykNET Woordrock omtrent 'n bruisende energieveld van Afrikaanse karma (Afrikarma?) terwyl studente en skoliere skouers geskuur het met al wat woordsmid en taalindoena is.
Ronnie Belcher was eerste aan die beurt tydens die Woordrock, en het in sy eie woorde, omtrent vir 'n "onbehoorlike opening" gesorg met van sy voorste kwinksinnige kwatryne.
Koos Kombuis het die gehoor in sy hoedanigheid as skrywer laat skater met sy voorlesing van wat omtrent as 'n manifes vir Afrikaans beskryf kan word.
Kombuis het op sy kenmerkende humoristiese wyse alle vrese oor Afrikaans se voortbestaan besweer, en ook 'n paar stekies ingekry teen die hoogdrawende debatvoering wat die "nuwe taalstryd" deesdae kenmerk.
Hy het onder meer Afrikaans met die atletiekster, Zola Budd vergelyk en beskryf as "'n kaalvoet-taal" wat homself tans in die "trillings van puberteit'' van 'n nuwe sosiale opset bevind.
Die res van die aand was grootliks gewy aan voorlesings deur skrywers terwyl musiekgroepe soos Spinnekop en die Klein Karoo Cowboy gewys het dat 'n vars gros nuwelinge nog vir groot Afrikaanse opskoppe sal sorg.
'n Spesiale Breytenbach-uur tydens die Woordrock het ook aan die gehoor die kans gegee om nader kennis te maak met onder andere Duusman en Paul Riekert, wat hul onderskeie bydraes op die Om te Breyten CD met oorgawe gedeel het. Dit is net jammer dat 'n magdom klankprobleme die Woordrock gekenmerk het, wat ietwat van 'n demper op die verrigtinge geplaas het.
Jacques Coetzee se braille-voorlesing van Breytenbach se poësie saam met sy gidshond op die verhoog en met Johann Kotze se musiekensemble as agtergrond, was hartroerend om die minste te sê.
Verder was daar ook performance poetry en 'n oudivisuele vertoning met Valiant Swart, terwyl die Nederlander Sander Vos tot laat ná twee die oggend nog gerock het.
Daar was ook deurgaans tydens die Woordfees 'n opelugverhoog, wat vir 'n paar opwindende impromptu-bydraes gesorg het. Baracuda was 'n samevoeging van drama, musiek en bewegingsteater deur Johann Kotzé en die skrywer Tom Dreyer.
Dié produksie het beslis wyer blootstelling nodig en kan danksy die uitsonderlike aard maklik tot kultusstatus verhef word.
Saterdagaand tydens die Skrywers 2001, was daar telleurstelling nadat Breyten Breytenbach op die laaste nippertjie onttrek het, maar voorlesings deur onder andere George Weideman, Joan Hambidge, Eben Venter en Gus Ferguson het vir groot hoogtepunte gesorg.
Laurinda Hofmeyr, Nicole Holm, Eugenie Grobler en Margit Meyer-Rödenbeck het ook met hul Vroue in Afrikaans 'n kort uittreksel gebied uit 'n kabaret wat in die toekoms nog grense kan verskuif.
Die laaste woord by die H.B. Thomteater is Sondag in die vroeë oggendure deur die Afrikaanse hip-hop van die Brasse van die Kaap gespreek. Mr. Fat en sy breakdancers was op hul stukke met snitte soos "Potjiekos", "BVK" en "Cape Flats".
Die pas afgelope Woordfees was 'n grootse poging en kan in die geheel as 'n dawerende sukses gesien word.
Die fees het omtrent gegroei sedert 'n klein begin verlede jaar. Die die paar probleme wat opgeduik het, herinner aan die groeipyne wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees aanvanklik beleef het.
Daar bestaan egter geen twyfel nie dat die Woordfees voortaan sal sorg dat dié kaalvoet-taal nog diep spore sal trap!

