Skrywers in lewende lywe sal nou asof op die markplein te vinde wees

Skrywers is anderste mense. Hulle skryf. Nie soos al die ander mense wat wil, of gaan of sal skryf nie. Ook nie soos alle ander mense wat glo hulle het 'n storie, dikwels hul eie ervarings, om te vertel, en al wat hulle nou moet doen is om iemand te kry om dit te skryf nie!

Skrywers is daardie siele wat gaan sit voor die tikmasjien, of selfs met pen of potlood in die hand, en die eensame, folterende weg volg met 'n paar woorde op 'n skoon wit vel en dan deurdruk tot die slotwoorde.

Dieselfde woorde wat die boeke maak wat jy en ek verslind, versamel, bespreek, boeke wat ons leer, ons vertroos, ons ontstel. En soos Goethe dit ook, ietwat seksisties, gestel het: talent kom nie alleen nie, daar moet 'n man wees agter die boek.


Aangesig tot aangesig

Dis die manne (en vroue) wat jou en my aan die praat, baklei, saamstem, en opgewonde kry. Dis hulle wat nie genoeg vereer word nie. En beslis nie genoeg betaal word nie. Behalwe natuurlik as jy Wilbur Smith is.

Dis ook daardie manne en vroue wat ons van aangesig tot aangesig soek om hom/haar te vertel/uit te skel/ te komplimenteer oor iets wat hy/sy geskryf het en wat jou ten diepste geraak het. Hierdie naweek verskaf daardie kans.

Die Woordfees wat van Vrydag tot Sondag op Stellenbosch plaasvind sal wemel van skrywers en van mense wat hulle kan ontmoet, of hoor, en, ja, selfs toespreek en uitvra.

Tussen die Ou Hoofgebou en die Neelsie sal sulke uiteenlopende skrywers soos Jeanne Goosen en Maretha Maartens te hore en te siene wees; machoskrywers soos Piet Haasbroek kom praat, Chris Barnard sal op sy gedrae manier vertel, en die meesteresse van die geskrewe én gesproke woord, Antjie Krog en Joan Hambidge, sal daar wees. Nuwelinge soos Toast Coetzer kom om sy sê te sê, en die opwindende romanskrywer Rayda Jacobs is een van die menigte wat iets te sê gaan hê.

'n Handvol Nederlandse skrywers gaan in "ontmoeting" met van ons eie digters wees en in die immer gewilde woordkunsgenre sal die werk van Sheila Cussons sterk figureer met veral Helene Conradie en Annaliese Wiid se toonsettings van dié digter. Cussons word op besondere wyse vereer op Stellenbosch, waar 'n tentoonstelling van haar skilderye ook in die Sasol-galery te sien sal wees.

Dis goed om soos op 'n markplein 'n klomp skrywers as 't ware on the hoof te kry want, so buitewêrelds soos hulle ook al kan voorkom, het skrywers ook probleempies. Onlangs het die verskrikking van alle verskrikkings vir Antjie Krog getref: haar hardeskyf is uitgevee deur 'n moedswillige virus (waar daar waaragtig, om Goethe skeef aan te haal, net 'n man agter moes gesit het!). Ook kon Philip de Vos met sardoniese radeloosheid vertel van 'n jakkalsie wat hom met feitlik elke manuskrip geteister het.

Philip was die spreker by Stevie en Sybil Smit se maandelikse Koopmanskloof-kelder-kultuuraandjies (kleinletter "k" sodat niemand sou begin dink dis hoë, gepantserde Kultuur nie). Sy skreeusnaakse loopbaan as skrywer, digter en limeriekmaker is met feitlik elke manuskrip deur raadop uitgewers begroet met: vir watter mark skryf Philip dan? Nou is dit duidelik dat Philip se mark, soos Harry Potter s'n, vir bloedjonk tot doodoud bedoel is vir die groot plesier om sy wyshede, sy stoutighede en sy taalvaardigheid te geniet.

Elke mens het 'n geliefde boek en uit die vele navorsing oor watter boeke die beste verkoop bly die Bybel nog tops. Ma's oor die wêreld het Benjamin Spock se boeke oor babaversorging as hul eie bybels aanvaar en vir ontvlugtinglees het Jacqueline Susann met haar Valley of the Dolls meer as 50 miljoen eksemplare verkoop. Tot onlangs nog was die naasbeste verkoper blykbaar Die gedagtes van Mao Zedong stellig omdat dit vir miljoene mense verpligte leesstof in Kommunistiese China was.

In Suid-Afrika is ons darem nie gedwing om propaganda te koop nie en het die geluk by die ongeluk getref in die aaklige dae van sensuur, nou bekend as die Lammie Snyman-dae (hy was die onverbiddelike voorsitter van die Sensuurraad ons eie literêre Gestapo). Baie nie-boeklesers het skielik boeke begin lees, en selfs gekoop, nadat die hare gewaai het oor byvoorbeeld André P. Brink se Kennis van die Aand; Etienne le Roux se Sewe Dae by die Silbersteins en later Magersfontein O Magersfontein. Dié sensasie het sekerlik die uitgewers geld gekos, maar watter bewuswording van die Afrikaanse letterkunde was dit nie!

Ruda en Langenhoven

Ek wens Ruda Landman, 'n boeke-maat, geluk met haar benoeming tot die US Raad, en onvermydelik volg skrywer-praatjies. Met wie gaan ons graagste deesdae naar bed?

Sy kies nog steeds vir Langenhoven immers het sy Brolloks en Bittergal oor en oor beleef met storietyd saans vir haar seun. Vir my, enigiets uit die Noordweste, veral as dit Thomas Deacon is.

meiring@incnet.co.za

Stellenbosch

28 Februarie 2002