‘Skoolmeester’ Aucamp ‘trap versigtig oor die tou’

‘Skoolmeester’ Aucamp ‘trap versigtig oor die tou’

Toe Hennie Aucamp Dinsdagaand op die verhoog gelei en voor die klank­toe- rusting se bedrading gemaan word: "Trap versigtig oor die tou", was sy ­reaksie: "Dit probeer ek al my lewe lank doen!"

Dié impromptu pas goed by die ­aan­haling wat die viering van Aucamp se 75ste verjaardag op die Woordfees-program aankondig: "Vir 'n voyeur de la vie is die ganse lewe onwettige ­teater." Maar ook by die let­terkundige Andries Vi­sagie se lesing op dié ­geleentheid, waarin onder meer ­Aucamp se aansluiting by die tradisie van die ­Dekadensie en sy bydrae, as skrywer en kanoniseerder, tot die Afrikaanse gayliteratuur belig is. Aucamp het in sy rede, " 'n Heil- dronk op die Nuwe Geslag", egter nie op sy eie prestasies in elke denkbare skryfgenre gefokus nie, maar op die ­belang, vir hom as "skoolmeester", van "die nuwe generasie", "want dit hang saam met twee ander kern­begrippe, naamlik kontinuïteit en ­tradisie".

Hy het spesifiek verwys na die drie jongeres wat op dié geleentheid ­opgetree het: Visagie en die kabaret­artieste Amanda Strydom (wat in haar toespraak oor Aucamp as kabarettis deurgaans van hom as haar "Meester" gepraat het) en Niël Rademan (wat van sy toonsettings van Aucamp-tekste ­uitgevoer het). "Strydom is 'n unieke gawe aan 'n kultuur, en gaan van krag tot krag ­omdat sy haar talent bly uitbrei. Visagie is een van die skerpsinnigste jong kritici . . . (met) die durf om ­‘ongekaarte streke van die gees' vir Afrikaans te ontdek. Rademan staan aan die vooraand van 'n mooi loopbaan. Sy grootste ­seën, maar ook grootste probleem, is dat hy ‘multigetalenteerd' is . . . ‘Talent sal jou nog vergewe word, veelsydigheid nooit'. "

Aucamp kan hom " 'n dag voorstel dat . . . Strydom 'n kabaretistiese ‘musical' gaan skryf, ‘boek', liedtekste en al"; dat Visagie 'n biografie oor 'n "ten onregte gemarginaliseerde gay skrywer soos ID du Plessis" kan skryf; en dat Rademan "vir ons 'n kabaret gaan aanbied saamgestel uit die kabaretklassieke van 'n 100 jaar." Hy het ook sý leermeester, W.J. du P. Erlank, oftewel Eitemal, met instem- ming aangehaal: "Die pad na interna- sionalisme loop deur die nasionale."

En van nog 'n "mentor", Con de ­Villiers: "Ek is 'n vyand van die ­makli- ke verkreë." Aucamp: "Ek het weinig simpatie met skrywers wat oud-Testa- menties weeklaag dat hulle aan die ‘op- droog' is . . . 'n Kunstenaar, skrywer, navorser wat sy lewe beplan, het altyd iets om op terug te val . . . (bly) bewus van sy ongebruikte self."

Kom daar wel " 'n plato in die ­leer- kurwe", is dit " 'n uitstekende plan om 'n jaar lank weg te bly van jou ­lesse- naar en jou rekenaar", te reis, by die natuur te gaan leer.En ter afsluiting 'n kwatryn: "Ek lig, soos 'n Marsman, my kristalhelder fluit / op 'n nuwe lente en 'n nuwe ­geluid; / die oesjaar was goed: hou die borrels dop, / hoe hulle, ekstaties, op voleindiging stuit."

Wat een toehoorder laat dink het aan 'n uitspraak van die teoloog Wentzel van Huyssteen (DB, 09.06.2007): "Kuns lê in die kern van wat menslik is."