‘Skoolmeester’ Aucamp ‘trap versigtig oor die tou’
‘Skoolmeester’ Aucamp ‘trap versigtig oor die tou’
Toe Hennie Aucamp Dinsdagaand op die verhoog gelei en voor die klanktoe- rusting se bedrading gemaan word: "Trap versigtig oor die tou", was sy reaksie: "Dit probeer ek al my lewe lank doen!"
Dié impromptu pas goed by die aanhaling wat die viering van Aucamp se 75ste verjaardag op die Woordfees-program aankondig: "Vir 'n voyeur de la vie is die ganse lewe onwettige teater." Maar ook by die letterkundige Andries Visagie se lesing op dié geleentheid, waarin onder meer Aucamp se aansluiting by die tradisie van die Dekadensie en sy bydrae, as skrywer en kanoniseerder, tot die Afrikaanse gayliteratuur belig is. Aucamp het in sy rede, " 'n Heil- dronk op die Nuwe Geslag", egter nie op sy eie prestasies in elke denkbare skryfgenre gefokus nie, maar op die belang, vir hom as "skoolmeester", van "die nuwe generasie", "want dit hang saam met twee ander kernbegrippe, naamlik kontinuïteit en tradisie".
Hy het spesifiek verwys na die drie jongeres wat op dié geleentheid opgetree het: Visagie en die kabaretartieste Amanda Strydom (wat in haar toespraak oor Aucamp as kabarettis deurgaans van hom as haar "Meester" gepraat het) en Niël Rademan (wat van sy toonsettings van Aucamp-tekste uitgevoer het). "Strydom is 'n unieke gawe aan 'n kultuur, en gaan van krag tot krag omdat sy haar talent bly uitbrei. Visagie is een van die skerpsinnigste jong kritici . . . (met) die durf om ‘ongekaarte streke van die gees' vir Afrikaans te ontdek. Rademan staan aan die vooraand van 'n mooi loopbaan. Sy grootste seën, maar ook grootste probleem, is dat hy ‘multigetalenteerd' is . . . ‘Talent sal jou nog vergewe word, veelsydigheid nooit'. "
Aucamp kan hom " 'n dag voorstel dat . . . Strydom 'n kabaretistiese ‘musical' gaan skryf, ‘boek', liedtekste en al"; dat Visagie 'n biografie oor 'n "ten onregte gemarginaliseerde gay skrywer soos ID du Plessis" kan skryf; en dat Rademan "vir ons 'n kabaret gaan aanbied saamgestel uit die kabaretklassieke van 'n 100 jaar." Hy het ook sý leermeester, W.J. du P. Erlank, oftewel Eitemal, met instem- ming aangehaal: "Die pad na interna- sionalisme loop deur die nasionale."
En van nog 'n "mentor", Con de Villiers: "Ek is 'n vyand van die makli- ke verkreë." Aucamp: "Ek het weinig simpatie met skrywers wat oud-Testa- menties weeklaag dat hulle aan die ‘op- droog' is . . . 'n Kunstenaar, skrywer, navorser wat sy lewe beplan, het altyd iets om op terug te val . . . (bly) bewus van sy ongebruikte self."
Kom daar wel " 'n plato in die leer- kurwe", is dit " 'n uitstekende plan om 'n jaar lank weg te bly van jou lesse- naar en jou rekenaar", te reis, by die natuur te gaan leer.En ter afsluiting 'n kwatryn: "Ek lig, soos 'n Marsman, my kristalhelder fluit / op 'n nuwe lente en 'n nuwe geluid; / die oesjaar was goed: hou die borrels dop, / hoe hulle, ekstaties, op voleindiging stuit."
Wat een toehoorder laat dink het aan 'n uitspraak van die teoloog Wentzel van Huyssteen (DB, 09.06.2007): "Kuns lê in die kern van wat menslik is."

