Om nog die vlinders te kan sien

Om nog die vlinders te kan sien

'n Kind wat die oorlogsverwoesting in Bosnië aanskou het, het opgemerk dat daar geen vlinder meer gesien is nie.

Dis met hierdie hartseer, keeltoetrek-beeld dat André P. Brink ter inleiding van die tiende Woordfees, die Lag-lag-fees, die waarde asook die bedreiging vir die kulturele en veral die kreatiewe viering van die kunste toegelig het. Tydig en ontstemmend. Daarom dat daar skielik 'n ekstra waarde aan hierdie sonderlinge volgepropte, aksiebelaaide, prettige, diep en dinkende fees toegevoeg is.

Eenkant lê ons van die lag vir Nortje se skets van die rugbywedstryd tussen die diakens en die ouderlinge van Wellington, en dis trane oor Magdaleen se herinneringe wanneer sy haar 45-jarige naaimasjien blinkvryf – die blywende gesigte van Janus, die simbool van die kunste: komedie en tragedie.

Lag-lag en ween-ween ook, want soos die kind wat geen vlinders meer sien nie, so kan dit met die kunste gaan. Die skeppende kunste kou harde bene; 2009 bied min genade. Borgskappe word teruggetrek. Aandeelhouers se belange kom eerste. Kreatiwiteit staan tru vir die ekonomiese krisis en die materialistiese uitgangspunt dat die sportafgod groter handelswaarde bied, vir die land en vir die borg.

Dis fynsny vir die skeppers, die dromers.

Maar dan die Woordfees. Het ons dan nie die ou nagmaalfees in ons gene nie! Toe die juk van politieke bevoorregting afgegooi word en 'n nuwe uitdaging kom, toe spring ons mos pens en pootjies kunstefeeste in. Maak nie saak dat die resep op die boerebasaar gebaseer is nie: daar's iets van feitlik alles wat 'n volk se lekkerkry, sy dink en sy wonder en verlange omvat.

Die Woordfees op Stellenbosch is juis so 'n markplek vir die skrywers, digters, denkers, debatteerders, sangers, kunstenaars – selfs, wraggies, vir die jong droogmakers wat met hul kitare en hul (soms ongelooflik liederlike) lirieke staanplek kry vir nét hulle in klubs, kroeë en plekke waar kinders gesien en liefs nie gehoor hoef te word nie.

Dis hierdie jong jolytmakers wat môre die meer beleë kunste sal beoefen, watch maar. Só wyd strek die kunste-demokrasie dat selfs die Praat Saam-kultuur met die volk se eie pittige Freek van kunstefees tot kunstefees reis om die ganse land deel te gee aan die idees en menings wat ons Afrikanergees tegelyk teister en plesier gee.

Die toekoms vir 'n Afrikaans-gedrewe fees? Kyk na ons hinterland, die platteland, vir ons redding, sê die praatsamers. Maar hoe? Soek hulle, kry hulle, vertel hulle. So getuig die ewig optimistiese Woordfees-direkteur, Dorothea van Zyl. Binne drie jaar het die fees se projek Woorde open Wêrelde (WOW) van die blinker jong plattelanders wat voorheen haas geen kans sou gehad het nie, bemagtig totdat van hulle nou uitblinkers op universiteit is.

Die kreatiewe gees is voelbaar op hierdie fees. Jy voel dit, jy sien dit: die vlinders vlieg nog.

Hulle vlieg darem nog.

meiring@lando.co.za
Stellenbosch
12 Maart 2009