'n Fees vol hoogtepunte

'n Fees vol hoogtepunte

DIE Woordfees was vanjaar vir my 'n belewenis wat ek lank sal onthou. Dit was onmoontlik om by alles uit te kom, maar hier volg 'n paar grepe uit my ervaring van die fees.

P.G. du Plessis wat sê: "Jy kan as skrywer jou leser kwaad maak, jy kan hom laat lag of huil, maar jy mag hom nooit verveel nie." En: "Hoe staan my hare dan nou so regop op my arm," toe Elias P. Nel se vriend die kenwysie van Koöperasiestories op sy bekfluitjie en kitaar speel.

Engela van Rooyen se definisie van SOS "Sitvlak Op Sitplek" wanneer daar volhard moet word met die skrywery so tussen die bedrywige dag deur.

Andre P. Brink se B&B "Bad en Bed" as hy homself vasgeskryf het in een van sy pogings om die intrige so 'n rapsie meer op te blaas as wat nodig is en hy self die ontknoping moet uitdink.

Jaco Botha wat verklaar dat die "goed" (dit is nou die storie) iewers in sy kop gestalte gekry het, in teenstelling met ander skrywers wat alles haarfyn probeer uitwerk en dan uiteindelik tog 'n ander pad loop om by die slot uit te kom.

Dan natuurlik Paul Eilers met sy wonderlike voordragte. "Ek voel skoon aangedaan en nederig," sê hy as hy die werk van die groot Afrikaanse skrywers en digters voordra, maar natuurlik ook dié van Nataniël ("Madam Butterfly") en Dana Snyman ("Champ").

En dan praat ek nie eens van Amanda Strydom en Coenie de Villiers se fees in die Endler-saal, Marion Holm se skitterende Sussie met die storie van Sandy, en, en . . . nie. Wat 'n fees!

 
Woordfeesliefhebber
Stellenbosch