Lokale by Woordfees stampvol

Lokale by Woordfees stampvol

Willemien Brümmer

KAAPSTAD. – “’n Lekker fees sonder politieke onsmaaklikhede.”

Dít was mnr. Theo Kemp, projekbestuurder, se opsomming van die sewende én grootste Woordfees, wat gister op Stellenbosch ten einde geloop het. Kemp het dié fees “’n goeie kombinasie van ligte vermaak en produksies met diepte” genoem.

Die fees het die grootste en ligste program tot dusver gehad met meer as 90 produksies. Hoewel die organiseerders gister nog nie hul sommetjies gemaak het nie, was hulle seker die aantal besoekers sou vanjaar heelwat meer wees as die 21 000 van verlede jaar.

Volgens die fees se kaartjie-administreerder, me. Christa van Zyl, was heelwat van die groot produksies reeds ’n week voor die tyd uitverkoop. Seker die gewildste van die dramaproduksies was Ysterasters, ’n verafri­kaanste weergawe van Steel Magnolias met onder meer Nina Swart en Elsabé Daneel. Wat musiek betref, het Ons Loop die Pad, waar Amanda Strydom en Coenie de Villiers ’n verhoog gedeel het, honderde feesgangers gelok.

Die organiseerders was opgewonde oor die sukses van veral die skrywersfees. Só moes ’n gesprek met die skrywer André P. Brink oor sy humoristiese werk na ’n ander lokaal verskuif word weens die stormloop van mense. Kaartjies vir nóg ’n gesprek waaraan Brink deelgeneem het, Gryp die Verbeelding aan, was uitverkoop en nóg stoele moes glo ingedra word om plek vir die massas mense te maak.

Volgens Van Zyl moes twee bykomende tafels én stoele vir sowat 20 mense by die Neelsie Vroueverenigingsaal ingedra word om plek te maak vir almal wat Kontreistories wou bywoon waar skrywers stories oor stre­ke in hul boeke kom vertel het.

Die organiseerders se stoutste verwagtinge is oortref by die fees se vlagskip-produksie, die Skrywersgala, waarvoor kaartjies reeds ’n week voor die tyd uitverkoop was.
Die feesdirekteur, prof. Dorothea van Zyl, vertel die H.B. Thom-teater was Vrydagaand tot op die galery toe vol vir dié produksie en die gehoor het “erg meegevoer” geraak.

In vergelyking met verlede jaar se Woordfees was dié fees volgens haar “taamlik insidentloos”. Verlede jaar is die fees oorheers deur die Dan Roodt-debat, nadat verskeie deelnemers hulle ontrek het weens die organiseerders se uitnodiging aan Roodt. Vanjaar was die taaldebat en die stryd ten opsigte van die T-opsie aan die universiteit volgens Van Zyl onderliggend aan baie van die gesprekke.

“Ons (die organiseerders) is bewus van die taaldebakel, maar dit gaan vir ons om ’n viering van die woord. Daarom doen ons daadwerklik iets aan die bevordering van Afrikaans as taal tussen tale,” het sy gesê.

Een van die diskoerse wat taamlik warm geraak het was oor “waarheen ons op pad is met al die feeste in die land”. Nog ’n artikel en foto’s op bl.8 .