Diggeweefde fees gee vlerke aan woorde van meesters
Diggeweefde fees gee vlerke aan woorde van meesters
Op kunstefeeste bewe die atmosfeer soos in 'n lugspieëling. Op die Suid-Afrikaanse feeskalender is die Woordfees een van die mees intense, gedronge vierings van woord en beeld. In die snikhete Maartmaand kry jy helder oordag hoendervel. Dis diggeweef met soveel wat tegelyk gebeur. Ek werk ongelukkig weer bedags en beleef net flitse. Met gevleuelde voet vliet ek tussen lokale en gebeurtenisse.
Onder die volmaan sien ek digters buite Klein Libertas opstyg en vlieg. Ek luister in die namiddag na outeurs wat vroetel na woorde en sien hoedat skrywers stof in filosowe se oë skop wanneer hulle omgaan met begrippe soos lag, gril en hyg. Buite die Erfurthuis (slegs staanplek oor) hoor ek oor 'n luidspreker Antjie Krog se stem wat onthutsende liefdesverse voorlees (sy wonder of haar kinders in hul goeie skole moet hoor van hul "ma se plasserige p-s en hul pa se geperishde p-l").
By die skrywersgala hang 'n Nederlander en 'n Belg saam met Afrikaanse woordsmede metafore aan die nag. Agter die Sasol-museum laat die beeldhouer Willie Bester hom nie die kuns afvra nie, maar antwoord dat hy nie 'n spesifieke manier het om 'n figuur te maak nie, dat hy op enige plek begin, soms by die voete, soms by die kop en die ding eenvoudig bou totdat hy reg lyk. Sy kunswerke is tegelyk ontstellend en speels met 'n droomagtige skoonheid wat veerlig tussen die skrootmateriaal en slagspreuke kop uitsteek.
Ek gee my oor aan die regisseur Wolf Britz se donker interpretasie van Genet se Diensmeisies. Dis sirkusagtig, vol rooi fluweel, trampoliens, spieëls en kettings. Die akteurs Nicole Holm en Martelize Kolver goël ligvoets met die groteske. Ek bring nie heeltemal die kloutjie by die oor nie, maar dink diep na oor verknegting en verbeelding terwyl die agtermiddag 'n kopstand uitvoer.
Ek stap verby vorige gunstelinge soos Blou Uur, Die Naaimasjien en Boom! wat ek graag weer sou wou sien.
My absolute gunsteling was Amanda Strydom se Vuur Gevang in Glas. Sy gee vlerke aan die woorde van haar briljante mentor, Hennie Aucamp. Dis die ware Jakob: kabaret wat ou Berlyn sou laat regop sit en luister. Ek onthou Strydom in die Markteater in die vroeë tagtigs: sy is nou ewe lewenskragtig, maar ryker, vol "troebel pret", haar "teerheid is 'n vlinder, 'n papillon d'amour, vervlietend net soos 'n blomgeur, ontwykend soos toujours". Sy het 'n wrang slag met ironie. Ná die vertoning stem ek saam met Meester Aucamp se uitspraak in die foyer: Beter sal jy nie kry in die Lae Lande of enige plek ter wêreld nie.
Nog 'n hoogtepunt is 'n gesprek met Henry Jeffreys (redakteur van Die Burger) in die Plataankafee. Ek wou hom nog altyd vra oor sy dae in die teater - ja, hy was in sy jeug amateur-akteur van formaat. Hy vertel toe hy op hoërskool was, het die skoolhoof aan iemand belowe hy kan 'n toneelgroep by die skool vestig. Die hoof het heeltemal vergeet van sy belofte en toe die persoon opdaag, hark hy die eerste klas wat verbystap (die standerd agts onder wie Jeffreys) nader vir die praatjie. Hulle het 'n toneelgeselskap begin en kort voor lank ambisieuse produksies van Gerhard Beukes en ander op die planke gebring.
Die ondernemende Jeffreys het al die vernaamste resensente na die township gelok vir openingsaande.
Hulle het die oog van 'n ene Blignault getref wat hulle meer professioneel opgelei en onder andere Adam Small-stukke laat opvoer het. Hulle werk saam met toneelgeselskappe uit Eersterust met mense soos Anthony Wilson. Só beland hulle in die Markteater en selfs in die Staatsteater.
Jeffreys was baie lus vir 'n verhoogloopbaan, maar toe hy verlief raak en trou, besef hy die geld was darem te beroerd. Vandag nog, wanneer hy teater toe gaan, stel hy hom voor hoe hy dié en daardie rol sou aanpak. Sulke verruklike, onverwagse ontmoetings is moontlik op kunstefeeste.

