Die ryk weduwee

Die ryk weduwee

Toneel
Die Ryk Weduwee
Japie Krige-saal, Stellenbosch.

 
Uys Krige kon woorde op 'n sonderlinge wyse saamsnoer, nuwes laat opklink en woordspelings laat blom. Reeds ryke woorde word kosbaarder in sy aanslag, en dit vloei vryelik soos die water in die gragte tussen die vrugbare boorde op die ryk ­weduwee se plaas.

In Krige se komedie Die Ryk Weduwee, wat op die Woordfees opgevoer word, kry jy 'n oorveeg van nostalgie wanneer vergete woorde uit die monde van die karakters borrel en hul manier van doen die vergetelheid laat leef.

Dis pittig, koddig en met ryke woorde so statig soos die titelkarakter op haar stylvolle Bolandse plaas. En dan is daar juweeltjies uit die oude doos wat jou laat skaterlag.

Dit vertel van die ryk weduwee Anna de Kock (Elsabé Daneel) wat vier huweliksaanbiedinge kry van eiesoortige mans wat elk sweef in 'n ander wentelbaan – en elkeen raak verlief in 'n oogwink; trouens die preutse Malmesburyse boer en ­prokureur (die r'e gruis so in sy mond van die bry) Pierre Naudé (Chris van Niekerk) raak sommer in sowat 20 minute op drie vroue verlief.

Die komiese gebeure wat hier kan opduik, is ooglopend, maar die woordjuweeltjies wat Krige blink poleer, bring komiese verrassings. Van Niekerk, Waldemar Schultz as die ­verstrooide professor Etienne Roux en Johann Nel as die stotterende Frans de Waal speel teatraal hul aweregse karakters en stuur die komedie. Daneel is uiteraard statig, dog stroef by tye, as die ryk weduwee, 'n spontanëiteit ­skemer tog in haar Anna deur.

Maar dis Martelise Kolver se Bettie die huishoudster en veral Susanne Beyers se Christine Vermaak wat jou die windmeul-oorveeg gee. Beyers is diep gegrawe in haar rol as die kwaai oor­drewe tannie Christine, so bekend én bekroon vir haar konfyt in die kontrei.

Die regisseur Juanita Swanepoel se produksie het 'n ritme waarin komedie kan floreer, met 'n sterk fokus op die karaktersering, veral omdat die gebeure hier in 'n enkele vertrek afspeel.

Die Ryk Weduwee is 'n aangename teaterervaring, maar grootliks oor die nostalgie van 'n vervloë tyd en Uys Krige se skitterende skat woorde.

Wayne Muller