
Die US Woordfees se eerste amptelike koorfees, Koorsig, is einde Januarie 2009 in samewerking met die Distell Stigting, Stellenbosch Toerisme en die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit aangebied. Die doelstelling van hierdie projek was om aan deelnemers van verskillende gemeenskappe die geleentheid te bied om hulle talente op ʼn groter verhoog bloot te stel en om samewerking tussen verskillende gemeenskappe te bewerkstellig.
Koorsig het oor drie aande gestrek en verskeie kore het voor ʼn paneel ervare beoordelaars opgetree. Aan die einde van die fees is ʼn wen-koor op meriete aangewys, asook ʼn koor wat die meeste potensiaal getoon het. Die kore het tydens die US Woordfees se gala-aand saam met die Tygerberg Kinderkoor, Zanne Stapelberg en Louis Loock opgetree.
Weens die sukses van die eerste Koorsig beplan die US Woordfees om op Sondag 25 Oktober 2009 ‘n tweede koorfees aan te bied. Hierdie geleentheid mag nie misgeloop word nie! Daarom nooi ons alle kore in die Groter Stellenbosch Area om hieraan deel te neem.
Alhoewel wenkore aangewys word, bly die fokus op ‘n koorfees en nie ‘n koorkompetisie is nie. Tydens die tweede Koorsig sal daar ook verskeie afdelings wees waarvoor kore kan inskryf. Die wen-kore sal tydens 2010 se US Woordfees saam met gesoute musikante optree by die gala-aand. Wen-kore sal ook pryse ontvang asook ‘n wisseltrofee.
Die beoordelaars ontvang ‘n reeks riglyne waarvolgens hulle aan die kore terugvoering gee. Die vereistes vir kore is: die koor moet uit meer as 10 lede bestaan en 4 voorgeskrewe items moet gelewer word, waarvan ten minste een in Afrikaans moet wees:
(Hierdie voorgeskrewe afdelings stel die beoordelaars in staat om ‘n objektiewe beoordeling te doen.)
Vir enige navrae kontak Jana Hattingh asb. by 021 808 3515 of stuur ‘n epos na koorsig@gmail.com
Laai die aansoekvorm in PDF formaat. Kliek hier
Tweede Koorsig suksesvol aangebied
Die US Woordfees se koorfees, Koorsig, is op Sondag 25 Oktober vir die tweede keer met groot sukses aangebied in die Konservatorium se Endlersaal. Dié geleentheid is moontlik gemaak deur Distell, Stellenbosch Toerisme en die ATKV.
Vyftien kore van so ver as Worcester en Diazville aan die Weskus het deelgeneem aan die byeenkoms. ʼn Paneel kundiges het optredes beoordeel, waarna pryse oorhandig is.
Mnr. Ronnie Samaai, kenner van koormusiek en beoordelaar op plaaslike en internasionale vlak, is bygestaan deur prof. Dorothea van Zyl, direkteur van die US Woordfees en houer van ʼn onderwyserslisensiaat in sang (UNISA) en me. Leonore Bredekamp, musiekdosent en self ʼn uitvoerende kunstenaar.
Die algehele wenner was Pro Canto Kamerkoor, terwyl X-Faktor en Joyful Singers meriete-toekennings ontvang het. Cloetesville Primêr het ʼn prys ontvang as die koor wat die meeste potensiaal getoon het.
Dié kore sal op 7 Maart 2010 in die Endler optree saam met Anna Davel en die Libertas-koor tydens die Woordfees se Koorgala-aand.