Musiek laat mense weet hulle is nie alleen nie

Mariam Batsashvili van Georgië is die eerste vroulike pianis wat die Internasionale Franz Liszt Klavierkompetisie gewen het. Sy het al saam met van die wêreld se mees gevierde orkeste opgetree, waaronder die Nederlandse Radio Filharmonie, die Koninklijke Concertgebouw Orkes, en die Rotterdam- en die Brussel Filharmonie.

Sy gee vanjaar ‘n solo-klavieruitvoering by die Toyota US Woordfees.

Mariam, vertel ons asseblief meer oor jou opkomende konsert by die Woordfees?
Ek gaan ‘n paar van my gunsteling-musiekstukke speel – werke van, onder andere, Bach, Mozart, Liszt en Ravel.

Waar kom jou liefde vir musiek, spesifiek klassieke musiek, vandaan? Wat is dit wat musiek vir jou magies maak?
My ouma wou altyd gehad het ek moet ’n pianis word en sy het daarin geslaag. Sy het my die weg gewys en my gehelp om dit te volg.  Musiek is inderdaad magies. Dis‘n instrument wat jou vervoer na waar jy ook al wil wees, en jou dinge kan laat voel wat jy dalk nooit in jou lewe ervaar het nie. Ek dink bowenal dat musiek mense laat weet hulle is nie alleen nie.

Jy is die eerste vroulike pianis wat ooit die eerste prys by die Internasionale Franz Liszt-klavierkompetisie gewen het. Waarom was dit so belangrik vir ’n vrou om hierdie kompetisie te wen?
Ek is bevrees sommige mense dink Liszt is te moeilik vir ’n vrou met klein hande, maar ek het gewys dis nie waar nie. Dit gaan alles oor geestelike krag wanneer dit by musiek kom. Daar moet dus ewe veel verwagtinge van manlike en vroulike musikante wees.

Wat is ’n paar van die hoogtepunte in jou loopbaan tot dusver?
Ek beskou die Liszt-kompetisie in Nederland as een van die belangrikste mylpale in my lewe. Dít en dat ek as ’n “Rising Star” deur die European Concert Hall Organisation gekies is, wat my toegelaat het om in gesogte sale in Europa op te tree . Dit was ook waardevol om die status van ’n BBC-nuwegenerasie-kunstenaar te verwerf.

Verlede jaar was vir my ’n geseënde jaar vol  hoogtepunte. Ek het vir BBC Proms in die Royal Albert Hall gespeel en ‘n CD met Warner Classics opgeneem met van my gunstelingstukke van Liszt en Chopin. Ek het ook my debuutkonsert in die Musikverein Golden Hall in Wene gehad.

Dit is nie die eerste keer wat jy Suid-Afrika besoek nie. Hoe was jou ervaring van Suid-Afrika en wat maak jou opgewonde daaroor om weer hier op te tree?
Ek onthou die heel eerste keer wat ek Suid-Afrika besoek het, was ek heeltemal betower deur die gees van die land. Die skoonheid van die natuur en die kultuur voel na aan my siel en dit het my innerlike vrede gegee. Ek het Suid-Afrika nog altyd beskou as ’n plek om in te woon as ek dalk besluit om na ’n ander kontinent te trek.

Kry jou kaartjies hier.

Facebook
Twitter
LinkedIn