Die laaste regte magic

Die teatermaker Nico Scheepers het vinnig naam gemaak met Amper, Vrystaat en Nêrens, Noord-Kaap. Vanjaar is hy by die Toyota US Woordfees met drie toneelstukke – Die engel by die dam, Triple Axel en die Fiësta-benoemde Tien duisend ton

Inspirasie is oral om ons, sê die dramaturg-regisseur Nico Scheepers. Soms klim woorde en beelde van nêrens af in jou kop in, en dan moet jy dit neerskryf vóór dit verdwyn.

Die engel by die dam debuteer vanjaar by die Woordfees en ons is tans besig om die produksie in werkswinkel-formaat af te rond. Ek het die skelet van ’n storie, en idees vir karakters en visuele elemente verskaf. Op die vloer werk ek nou saam met die akteurs om al die legkaartstukke aanmekaar te las, en die verhaal finaal vorm te gee.” 

In die rolverdeling is De Klerk Oelofse, Liezl de Kock, Carla Smith, Len-Barry Simons en Carlo Daniels, maar oor die storielyn wil Nico nog nie té veel verklap nie.

“Gehore kan hulle gereed maak vir ’n visuele fees, ’n magiese verhaal gegrond op die soeke na ’n tipe Afrikaanse mitologie. Hoe droom kinders van engele en eenhorings en drake, as al wat hulle ken springbokke en aasvoëls en diefwering is? ”

Dan is daar Nico se eerste Engelse produksie, Triple Axel (met David Viviers en Carlo Daniels), wat afspeel in Seepunt in Kaapstad. Die teks handel oor twee mans, een wit en een bruin, wat mekaar ontmoet by ’n nagklub. Die titel kom van die een karakter se obsessie met ysskaats, verduidelik Nico. Hulle raak vinnig verlief en moet dan die uitdagings van die lewe saam trotseer. 

“Is liefde genoeg? Of verwurg ons verskille daardie liefde voor dit kans kry om te groei? ” vra Nico. 

Tien duisend ton, wat verlede jaar by die Woordfees gedebuteer het, is terug vir ’n tweede speelvak. Nico is trots op hoe die produksie die afgelope jaar gegroei het.

“Ek is ongelooflik lief vir hierdie stuk. Dis vars, snaaks, eerlik en seer en baie aktueel vir ons tyd. ” 

Albert Pretorius en Cintaine Schutte speel teenoor mekaar in hierdie verhoudingsdrama en Nico praat met groot lof van dié twee. 

“Hulle verdien elke toekenning wat die gode oor hulle pad gaan strooi. Hulle slaan my asem weg, elke keer.” 

Tien duisend ton is in verskeie kategorieë vir kykNET Fiësta-toekennings benoem – vir Beste akteur (Albert Pretorius), Beste aktrise (Cintaine Schutte), Beste regie, Beste aanbieding, en Beste vertaling of verwerking van ’n bestaande teks. Katvoet, waarvan Nico die teks verwerk en die regie behartig het, is ook vir ’n hele paar Fiësta-toekennings benoem. 

“Dit is ’n ongelooflike eer om hierdie benoemings te ontvang. Jy vertel stories, want dis lekker en jy skrik steeds dat mense jou daarvoor betaal. Benoemings by geleenthede soos die kykNET Fiëstas is die kersie op die koek,”  meen Nico. 

“Ek glo dat kunstenaars erkenning vir hulle werk moet ontvang. Die kunstefeeste van hierdie land is ’n wonderwerk – honderde duisende mense ry kilometers om teater in skoolsale en slaghuise te gaan kyk,” sê hy met ‘n glimlag.

“Waar anders in die wêreld gebeur dit so lewendig, so konstant, so noodsaaklik? Ons vereer die werk van hierdie guerilla-kuns met geleenthede soos die Fiëstas, en skryf dit op teen die muur van Afrikaans. Dit is ’n voorreg om deel te wees van hierdie era.“

Om die stuk uiteindelik op die verhoog te sien maak al die harde werk die moeite werd.

“Die ongelooflike verantwoordelikheid en waansin daarvan tref jou eers as jy op die planke is, by die teater, besig om die ligte te fokus en gereed te maak vir die eerste optrede. 

“Tydens die skryfproses, tydens repetisies, dink ek nie regtig aan die gehoor of hoe die stuk ontvang sal word nie – ek is besig om ’n Storie te vertel en die Storie is die enigste god in daardie kamer.” 

Uiteindelik, meen Nico, gaan alles oor stories.

“Ons geboorte is ’n storie, ons word stories gevoer en ons word groot vertel, ons leef ons stories en wanneer ons sterf word ons uiteindelik net ’n storie. Stories was eerste, in die donker, en sal die laaste ding wees wat oorbly. Dit is wat ons MENS maak.  

“Kom beleef die wonderwerk van teater in lewende lywe, met elke traan en druppels sweet en bloed. As jy daar in die donker sit voor die gordyn lig, weet jy jy gaan nou iets sien wat voor jou oë gebore word, leef, en sterf. Dís die laaste regte magic.”

Facebook
Twitter
LinkedIn