US Woordfees TV 2022

Op die TV

Sit weer die Woordfees
in jou huis aan

Die Toyota US Woordfees vind vanjaar nogmaals dwarsoor Suid-Afrika en Namibië plaas – eksklusief op DStv. Die Woordfees TV-fees sal vanaf 15 tot 28 Julie op DStv-kanaal 150, en in Namibië ook op GOtv-kanaal 27, op die lug wees.

Alle Suid-Afrikaanse DStv-intekenaars met ’n Premium-, Compact Plus-, Compact- of Family-pakket sal toegang tot dié opwipkanaal hê, maar in Namibië sal Woordfees TV nie ook op Family beskikbaar wees nie.
Teken hier in.

’n Opwip-TV-fees

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, is opgewonde oor dié nuwe konsep: “ ’n Opwip-TV-fees is ’n wonderlike, veilige manier om die kunste dwarsoor die land te stimuleer, te ondersteun, te deel en te vier. Die Woordfees-TV-model maak dit vir ons moontlik om ons handelsmerk lewendig te hou, inkomstegeleenthede vir kunstenaars te skep en blootstellingsmoontlikhede te gee aan ons borge, wat ons so getrou deur die pandemie ondersteun. Ons is baie dankbaar vir die bydraes van Toyota, Universiteit Stellenbosch, kykNET, MultiChoice en Media24 waarsonder hierdie TV-fees nie moontlik sou wees nie.”

Fees-TV-aanbod

Die fees-TV-aanbod sal die meeste genres dek wat gewoonlik deel van die program is. Dit sluit in die Easy Equity Skrywersfees, toneel, kontemporêre musiek met die Toyota Groot Vyf-konsertreeks en Standard Bank Jazz-aanbieding, klassieke musiek, Savana Stand-up-komediefees, Stellenbosch Wynroetes Leefstyl, Media24 Diskoers, Strauss & Co Visuele Kuns en dans. Die Standard Bank-landboureeks is vanjaar ook op die program. Herhalings van die gewildste TV-feesaanbiedings van 2021 sal buite spitskyktye uitgesaai word. Nuwe programme wat vir 2022 vervaardig word, sal op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Die programinhoud en uitsaaitye van die Toyota US Woordfees TV sal op 21 Junie 2022 in die media bekend gemaak word. 

In samewerking met die Woorde Open Wêrelde (WOW) Projek, sal die feesprogram ook opvoedkundige elemente bevat. 

Alle narratiewe inhoud en gesprekke sal Engelse onderskrifte hê.

Vir borgverwante sake en om op die kanaal te adverteer

Kontak asseblief vir Marlise Serfontein: marlises@sun.ac.za 

Hoe kyk ek Woordfees TV?

Woordfees TV is van 15 tot 28 Julie eksklusief op DStv-kanaal 150 en op GOtv-kanaal 27 in Namibië beskikbaar. 

Alle Suid-Afrikaanse Premium-, Compact-, Compact Plus-, en Family-intekenaars het toegang tot hierdie opwipkanaal en hoef niks ekstra te betaal nie, maar in Nambië is die Family-pakket uitgesluit. As jy nog nie op DStv ingeteken is nie, kan jy dit maklik vir ‘n maand doen en dit gaan jou goedkoper as die tradisionele fees uitwerk.

Teken in op DStv