Ons storie

Die Toyota US Woordfees

Soveel meer as
'n kunstefees

Die Toyota US Woordfees is ’n unieke spanpoging wat ’n dorp, ’n universiteit, kunstenaars, gehore en gemeenskappe van dwarsoor die land bymekaar bring om die stories te vertel van ons grense, ons verskille, ons ooreenkomste, ons vrese, ons vreugdes, ons toevlugte, ons oorwinnings en ons sterk punte.

Die Woordfees verander die universiteitsdorp van Stellenbosch in die Wes-Kaapse wynlande in ’n warrelwind van energie en kreatiwiteit wanneer kunstenaars, gehore en gemeenskap mekaar vind in ’n vreugdevolle viering van boeke, skrywers, teater, musiek, kuns, dans, diskoers en films.

Die Woordfees het in 2000 as ’n deurnagviering van Afrikaanse woordkuns begin, maar het in die afgelope twee dekades gegroei tot een van Suid-Afrika se grootste meertalige kunstefeeste. In 2020 is om die 500 uitvoerings en geleenthede in meer as 70 venues in en om Stellenbosch aangebied.

Gedurende die Covid-pandemie het die fees voortgeleef in nuwe innoverende gedaantes. In April 2021 is die Flikker & Flash-opwipvertonings in leë winkelvensters en in die strate van Stellenbosch aangebied. Die fees het ook in 2021 geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse kunstefees te word wat op ‘n opwip-TV-kanaal plaasgevind het. Woordfees TV is van 1 tot 10 Oktober op DStv-kanaal 150 uitgesaai. Hierdie pioniersprojek was so ‘n sukses dat Woordfees TV ook in 2022 aangebied word in Julie, gevolg deur ‘n fees in die vlees gedurende Oktober in Stellenbosch.

Die US Woordfees is egter veel meer as ’n kunstefees. Hierdie merkwaardige onderneming, wat deel van die Universiteit Stellenbosch se Sosiale Impak en Transformasie-omgewing vorm, is ook die tuiste van verskeie langtermynprojekte wat oor die hele jaar bedryf word en ’n daadwerklike verskil in die lewens van duisende mense maak.

Ons impak

Die Woorde Open Wêrelde-projek (WOW) kweek by leerders ’n liefde vir woorde deur leesbevordering, spelkompetisies, skrywersbesoeke en slypskole vir kreatiewe skryfwerk. WOW bereik jaarliks meer as 2 500 skole en 270 000 leerders dwarsoor Suid-Afrika.

Die WOW-projek open ook die wêreld van tersiêre opleiding vir leerders uit voorheen benadeelde gemeenskappe deur beurse, akademiese ondersteuning en mentorskap te verskaf om hierdie jong mense nie net toegang tot tersiêre geleenthede te gee nie, maar om hulle ook só te ondersteun dat hulle hul studies suksesvol kan voltooi. 

Gedurende die Woordfees word ’n WOW-program aangebied wat lesers, onderwysers en skoolhoofde in die wynlande geleenthede gee om aan verskeie gesprekke, akademiese debatte deel te neem en ook ’n hele aantal uitvoerings by te woon wat liefde vir die geskrewe en gesproke woord stimuleer en bevorder.

'n Fees in jou voorkamer

Woordfees TV was die eerste kunstefees wat in Suid-Afrika en Namibië op ‘n opwip-TV-kanaal aangebied is. Toyota US Woordfees TV sou aanvanklik van 1 tot 7 Oktober op die lug wees, maar is op grond van die groot aanvraag na herhalings van programinhoud met drie dae tot 10 Oktober verleng. 

Die TV-feesprogram het ’n wye verskeidenheid van genres ingesluit: teater, skrywers en boeke, dans, leefstyl, stand-up-komedie, kontemporêre en klassieke musiek, film, diskoers en visuele kuns. Daar was ’n sterk fokus op gehalteboeke, – teater, -musiek en -film in Afrikaans. 

US Koor

Die US Woordfees bestuur en koördineer die gevierde Stellenbosch Universiteitskoor wat in 2018 skoonskip by die prestige-ryke Llangollen Internasionale Musiek-eisteddfod in Wallis gemaak het deur al drie kategorieë waaraan hulle deelgeneem het (Jeugkore, Gemengde kore en Oop kore) te wen. Die koorleier, André van der Merwe, het die Jayne Davies-prys vir beste dirigent by die Llangollen-eisteddfod ontvang. Die US Koor is sedert 2012 nommer een op die Interkultur-wêreldranglys van ’n 1000 internasionale kore.

Hierdie merkwaardige koor bestaan uit 120 US-studente uit alle akademiese dissiplines wat saamgesnoer word deur hul liefde vir musiek en sang.