Woordfees TV nou tot 10 Oktober

Op grond van die groot aanvraag na herhalings van programme wat sedert 1 Oktober op Woordfees TV uitgesaai is, het DStv besluit om dié opwipkanaal drie dae langer op die lug te hou. Die 2021 Toyota US Woordfees sou landwyd en in Namibië van 1 tot 7 Oktober 2021 op DStv-kanaal 150 en GOtv-kanaal 15 plaasvind. ’n Seleksie van gewilde inhoud sal nou ook van 8 tot 10 Oktober in nuwe tydgleuwe herhaal word.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW-projek, is verheug oor dié verwikkeling: “Ons is oorval met positiewe terugvoer van dankbare en meelewende kykers. Die TV-fees sal nooit die spontane saamwees van ’n tradisionele fees kan vervang nie, maar die model maak die fees beslis meer toeganglik vir ’n groter gehoor. Weens die beperkte tydsduur kon ons baie gehalteprogramme net een of twee keer uitsaai, en die ekstra dae bied geleentheid vir meer mense om dié aanbiedings te ervaar.”

Die programskedule vir die verlengde TV-fees sal teen Donderdag 7 Oktober 15:00 op woordfees.co.za beskikbaar wees. Die nuwe dagprogramme sal ook op die Woordfees se sosialemediaplatforms gedeel word. As jy onseker is hoe om op Woordfees TV in te skakel, klik hier.

Facebook
Twitter
LinkedIn