Teatermakers en dansers neem STANDpunt in

Professionele teatermakers en dansers is hard getref deur die Covid-pandemie, wat nie net ’n dramatiese verlies aan inkomste veroorsaak het nie, maar ook verhoogkunstenaars van ’n gevoel van gemeenskap ontneem het. Die Take-a-STAND Dialogues is gegrond op die model van skrywersfeeste en wil met ’n samekoms gemeenskap versterk en nuwe lewe gee. Die Take-a-STAND-gesprekke sal ’n platform aan diverse stemme uit die dans- en teatersektor gee om verskeie uitdagings en sosiale kwessies in die uitvoerende kunste aan te spreek.

Dié geleentheid word gedurende die naweek van 19-21 Februarie in Stellenbosch aangebied deur die US Woordfees en STAND (Sustaining Theatre and Dance)-stigting. Die samekoms word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Nederlandse Ambassade en NATi.

Elke paneelgesprek sal 60 minute lank wees en tot vier deelnemers insluit. Die gesprekke sal informeel onder die leiding van fasiliteerders plaasvind. Lede van die gehoor sal die geleentheid kry om vrae te stel.

Onder die reeds bevestigde panneellede tel Ismail Mahomed (Direkteur: Sentrum vir Kreatiewe Kunste UKZN), Gregory Maqoma (danser-choreograaf), Mark Heywood (Redakteur: Daily Maverick Citizen & Uitvoerende direkteur: Section 27) en Cornelia Faasen (Uitvoerende hoof: NATi).

Die boekbekendstelling van Decolonisation as Democratisation: Global Insights into the South African Experience is ook op die program. Die redakteur van dié internasionale publikasie, Siseko H. Kumalo, sal daar wees om oor die projek te gesels.

’n Wye verskeidenheid van temas rondom die huidige stand van sake in die uitvoerende kunste en die toekomsvooruitsigte van dié sektor sal onder die loep kom. (Sien die program onder.)

Die veelbekroonde dramaturg en bestuurslid van die STAND-stigting Mike van Graan is opgewonde oor dié geleentheid: “Ná ’n vernietigende jaar van Covid-19-inperkings is ons verheug om weer as ’n gemeenskap te kan koppe bymemaar sit – selfs al is dit net op ’n klein skaal. Die Take-a-STAND-gesprekke is ’n bevestiging van ons toewyding tot die lewenskragtigheid en volhoubaarheid van die dans- en teatersektor deur oplossings in vennootskap met ander te probeer vind.”

Die US Woordfees-direkteur, Saartjie Botha, deel Van Graan se entoesiasme: “Die US Woordfees sien uit om bedryfsleiers in Stellenbosch se verwelkom om saam te dink en praat oor ons bedryf in ‘n mid- en post-Covid wêreld. Nou meer as ooit te vore moet kunstebesture, teaters, feeste, geselskappe en vryskutkunstenaars saamwerk om ons bedryf te konsolideer en te beplan vir die uitdagende tye wat voorlê.”

Die Take-a-STAND-gesprekke sal in 44 Ryneveld plaasvind, wat sowel die naam as die adres van ’n nuut opgeknapte venue in Stellenbosch is.

Daar sal kaartjies vir elke sessie beskikbaar wees vir ’n gehoor van 50, wat onder die geldende Covid-19-riglyne toelaatbaar is. Alle sessies sal ook regstreeks gestroom word en die geleentheid is oop vir die algemene publiek.

Kaartjies vir die bywoning van gesprekke by 44 Ryneveld kos R60 per sessie, R150 vir ’n hele dag en R250 vir die hele naweek. 

Die virtuele bywoning van gestroomde sessies sal R20 per sessie kos of R150 vir die hele naweek. Internasionale gaste sal $5 per sessie en $30 vir die hele naweek betaal.

Vir verdere inligting oor die Take-a-STAND-gesprekke, kontak vir Danie Marais: danie_marais@sun.ac.za


PROGRAM: TAKE-A-STAND-GESPREKSREEKS

[Die volledige lys van sprekers sal bekend gemaak word sodra alle deelnemers bevestig is.]

VRYDAG 19 FEBRUARIE

18:30         Programrede: Teater vir wie? Dans vir wat?

20:00         Verwelkomingsdrankies vir sprekers en ander deelnemers

SATERDAG 20 FEBRUARIE

09:30         Hoekom ons (steeds) teater skep: Vervaardigers/skrywers/regisseurs gesels

11:00          Wat van ons? Die hoop en drome van bedryfsveterane

12:30          Die dekolonisasie van teater en dans. Beteken dit enige iets?

14:00          Wat wil gehore hê? En moet ons hulle gee wat hulle wil hê?

15:30          Wat drama-onderrig ons leer: Drama-onderwysers deel hul insigte

17:00          Moenie jou dogters of seuns na die verhoog stuur nie: Lei ons meer dansers en teatermakers op as wat die Suid-Afrikaanse mark kan akkommodeer?

18:00          Boekbekendstelling – Decolonisation as Democratisation

19:30          Komedie: Optrede van deelnemers aan die STAND Foundation’s Women Stand-Up Comics-projek

SONDAG 21 FEBRUARIE

10:00         Ons visie en hoop vir die toekoms: Jong teatermakers gesels

11:30          Behoort teater en dans deur die staat befonds te word, gegewe al die ander uitdagings van ons samelewing?

13:00         Wat gee aan ’n dans- of teater-estetika ’n “Afrika-karakter”? En, maak dit saak?

14:30         Komedie, satire of drama? Noodsaaklike ontvlugting of lafhartige ontkenning?

16:00         Hoekom ons die Suid-Afrikaanse kunste ondersteun: Die perspektief van internasionale agentskappe

18:00         Afskeidsdrankies

Facebook
Twitter
LinkedIn