’n Gedaanteverwisseling vir die 2021 Woordfees is in wording

Die 2021 Toyota US Woordfees sal nie in die beplande formaat van 17 tot 24 September in Stellenbosch kan plaasvind nie, maar daar word reeds hard gewerk aan ’n opwindende alternatief. Meer besonderhede oor hierdie landswye Covid-veilige viering van die kunste sal binnekort bekend gemaak word.

Die kansellasie van die tradisionele fees, wat altyd maande se beplanning en organisasie verg, het egter onafwendbaar geword vanweë, onder meer, onsekerheid oor die derde vlaag Covid-infeksies en vertragings in die inentingsprogram.

“Daar is verskeie redes waarom ’n fees in die vlees nie meer in 2021 moontlik is nie,” sê die direkteur van die Toyota US Woordfees, Saartjie Botha. “Nadat pres. Cyril Ramaphosa op 30 Mei aangekondig het dat die land in die lig van ’n dreigende derde vlaag van Covid-19 na vlak 2-inperkingsmaatreëls skuif, was dit finaal duidelik dat ons nie die veiligheid van die dorp se inwoners en dié van ons gehore en kunstenaars sal kan verseker indien ons soos beplan voortgaan nie. Die Universiteit Stellenbosch se Kampusgesondheid het ook gemaan dat geen massabyeenkoms in September Covid-veilig sal kan wees nie.

“Ons het nietemin tot op die heel laatste gewag om hierdie besluit te neem omdat kunstenaars en die dorp se ekonomie ’n fees broodnodig het. Ons borge kan egter nie bekostig om gekoppel te wees aan ’n moontlike superverspreidingsgeleentheid nie. Dit is ook gewoon nie finansieel haalbaar om ’n fees met die huidige kapasiteitsbeperkings aan te bied nie.

“Die Woordfees bied jaarliks die Woordfees WOW Karnaval en ten minste een ander groot buitelugkonsert met kapasiteitsbeperking van ongeveer 6 000 aan. Die aangepaste kapasiteit sou in die verskillende vlakke van Covid-19-inperking wissel van nul tot ’n maksimum van 500, wat die finansiële haalbaarheid van so ’n onderneming kelder nog voor die eerste verhoogpen ingeslaan is.

“Wat binnenshuise ruimtes betref, lyk die prentjie nog droewiger: ’n Ruimte soos die Adam Small-ouditorium, met ’n kapasiteit van 324, kan met sosiale distansiëring slegs 49 gehoorlede akkommodeer. Om dieselfde inkomste van ’n uitverkoopte vertoning soos voor Covid-19 te genereer, sou kaartjies met verminderde kapasiteit meer as R990 stuk moes kos.

“Maar ek is baie opgewonde oor ons alternatiewe feesplanne vir 2021 en ek kan nie wag om binnekort die sluier te lig nie. Solank daar kuns is, is daar hoop en nuwe moontlikhede.”

Die 2021 Toyota US Woordfees word nie meer vanaf 17 tot 24 September aangebied nie. Inligting oor nuwe feesprojekte vir 2021 sal eersdaags in die media en op al die Woordfees se digitale platforms bekend gemaak word.

Facebook
Twitter
LinkedIn