Is jy lief vir die kunste? Dan is jy nou op die regte plek! Baie welkom by die US Woordfees se webblad, waar jy alles vind wat jy soek oor die verlede, hede en veral die toekoms van die Woordfees en die WOW (Woorde Open Wêrelde)-projek.
Woordfees 2010 is om die draai. Jy kan jou klaarmaak vir al die sport en sports wat ons tema – “Baljaar” om by die Sokker Wêreldbeker te pas – gaan oplewer. ’n Sokkerspan het elf spelers en dis ook ons elfde fees – vandaar Piet Grobler se kostelike sokkerbrommer.
Van 1 tot 7 Maart 2010 lewe die Akker weer wanneer skrywers, akteurs, musikante, kunstenaars en veral feesgangers op Stellenbosch toesak vir die elfde onvergeetlike fees. Volg gerus die skakels aan die linkerkant as jy meer wil weet.
Die Woordfees het sedert 2000 uitgegroei tot ‘n nasionale fees met ‘n sterk internasionale karakter, wat jaarliks feesgangers lok vanoor die hele Suid-Afrika én uit die buiteland. Dit het fenomenaal gegroei van die eerste 1000 mense in 2000 tot 38 500 in 2009. Van 2008 tot 2009 het die fees met meer as 37% gegroei – en dit tydens die resessie.
Met die WOW-projek word tans jaarliks meer as 14 000 leerders van 70 skole bereik.

Die US Woordfees verwelkom graag lede van die media by vanjaar se fees wat van 1 tot 7 Maart plaasvind.
Om toegang te verkry tot Woordfees-produksies wat jy wil dek vir jou publikasie of webwerf, moet jy so gou moontlik van jou laat hoor by woord@sun.ac.za. Die Woordfees- en WOW-span sien daarna uit om jou welkom te heet by die elfde US Woordfees, ondersteun deur Die Burger, Sanlam, Lotto en die ATKV. Ons weet dat jy 'n besonder aangename tyd saam met ons gaan deurbring in die Eikestad.
In hierdie sokkerjaar bring ons vir jou 'n wen-program!
Kontak gerus die Woordfeeskantoor by 021 808 2901 met enige navrae.




